Kan die Bokke ook die All Blacks klop?

’n Wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks is altyd iets om na uit te sien. Foto: Odd Andersen/AFP.

Kom ons wees eerlik met mekaar: Die All Blacks mag dalk die Springbokke respekteer, maar hulle is hoegenaamd nie beïndruk met die soort spel wat die Suid-Afrikaners opdis nie.

Ian Foster, hoofafrigter van die All Blacks, het vroeër gesê dat hy aan die slaap geraak het terwyl hy na die tweede toets tussen die Suid-Afrikaners en die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad gekyk het.

Dan het die oudafrigter sir Graham Henry gemor dat dit “moeilik” is om na die wedstryde te kyk, terwyl hy vir ’n bietjie meer aanvallende flair gesmeek het.

Daarbenewens het Nieu-Seelandse joernaliste geskryf dat die All Blacks asseblief rugby uit die kloue van die “vervelige” Springbokke moet red.

Goeiste, Shania Twain se That don’t impress me much het seker kliphard in die agtergrond geblêr terwyl hulle die reeks gevolg het.

Maar volgens Wêreldrugby se amptelike ranglys is die Bokke die voorste span ter wêreld, die Webb Ellis-trofee staan in ’n Suid-Afrikaanse vertoonkas en Siya Kolisi en kie. het so pas die Leeus-reeks ná ’n internasionale afwesigheid van twee jaar gewen.

Die Springbokke het die afgelope reeks teen die Britse en Ierse Leeus gewen. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Rassie Erasmus en Jacques Nienaber moet sekerlik dan iets reg doen, of hoe?

Een van die redes vir die Bokke se sukses is hul uitstekende verdediging. Teenstanders (onder wie die All Blacks) kon sedert 2019 nog net 13 drieë in 16 toetse teen die Suid-Afrikaners druk.

Ja, ’n rugbywedstryd word gewen wanneer een span meer punte as ’n ander aanteken. As ’n span se verdediging egter agtermekaar is en hy sy teenstanders weg van sy doellyn kan hou, is die stryd egter reeds halfpad gewonne.

Wanneer die Springbokke volgende maand teen die All Blacks in Dunedin te staan kom, sal dit ’n interessante tweestryd tussen rotsvaste verdediging en avontuurlustige aanvalsessies wees.

Lukhanyo Am is een van die Springbokke se gevaarmanne. Foto: GB Jordaan.

James Parsons, oudhaker van die Auckland Blues, meen dat aanvallende skoppe (snaaks genoeg) die Kiwi’s se grootste aanvalswapen teen die Bok-verdediging kan wees.

“Die All Blacks sal ’n plan moet beraam om die Springbokke se verdediging te manipuleer. ’n Steekskoppie bo-oor die verdedigers – met Richie Mo’unga of Beauden Barrett wat die bal agternasit – kan werk,” het Parsons gesê.

“Hulle sal die perfekte aanvalsbalans tussen hardloop- en skopwerk moet vind, terwyl hulle ook versigtig vir Lukhanyo Am moet wees omdat hy so goed kan terugval.”

Die Springbokke speel op 25 September in hul 100ste toets teen die All Blacks en die Suid-Afrikaners sal waarskynlik nie veel aan hul wedstrydplan karring nie.

Die Bokke kan ook drieë druk. Foto: Twitter.

“Daar is ’n plan met alles. Wanneer ons dinge korrek op die veld uitvoer, gaan dit nie vir ons om vervelige rugby te speel nie, maar om te verstaan wat ons wil bereik,” het Deon Davids (Springbok-hulpafrigter) vroeër gesê.

Dalk leer die All Blacks dan op die harde manier dat daar inderdaad ’n verskil tussen “vervelige rugby” en “intelligente rugby” is.

  • Die Springbokke en All Blacks het al in 99 toetse teen mekaar gespeel. Die Suid-Afrikaners kon 36 van hierdie kragmetings wen, terwyl die Kiwi’s in 59 wedstryde geseëvier het. Vier van die wedstryde het gelykop geëindig.
  • Nieu-Seeland het egter aansienlik meer punte (2 050) as Suid-Afrika (1 576) aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Thom ·

Wat het selfs by die wêreldbeker tussen die 2 spanne gebeur ?

Lionel ·

@Thom – SA het weereens, soos alles in die land, verloor

VaalDonkie ·

Dis altyd lekker om die All Blacks te wen want hulle speel mos met 16 manne op die veld

piet ·

Ek dink hulle het al oor en oor bewys dat hulle net beter is meeste van die tyd. So om die vraag te beantwoord: kan ons hulle wen, ja. Sal ons hulle wen, onwaarskynlik soos gewoonlik. Ons sal hulle op ‘n gereelde basis moet klop, meer as wat hulle ons klop voor ons enigsins aanspraak sal kan maak as die beste span in die wereld. Voor dit nie gebeur nie, bly hullle die toonaangewende span in die wereld. Daar is ‘n verskil tussen die beste te wees oor ‘n lang tydperk en die wenner te wees van een uitkloptoernooi. En ek dink die meeste rugbykenners sal dit verstaan of ten minste insien.

piet ·

En ook – Die reuse verskil tussen die AB’s en ander spanne is hoe goed hulle vaar in wegwedstryde. Dit spreek van klas, ‘n trappie hoer as ander spanne. Iets waarna ons kan streef nadat ons ten minste dit begin regkry om hulle in SA te klop!!!!

Niklaas ·

Om die All Blacks te klop , hier in SA of daar in NZ , bly maar steeds die top prys van alle rugby mededinging. En hul is altyd so ingestel teenoor ons ook.

piet ·

Met die span wat ons gekies het, almal se raaiskoot. Ons weet teen hierdie tyd as ons nie ons allerbeste span op die veld stoot nie, kan ons enigiets verwag. Eintlik kommerwekkend hierdie beperkte diepte in kwaliteit.

Riaan ·

Kom ons wees eerlik met mekaar: Toets rugby is nie veronderstel om ‘n verlengstuk van Super Rugby te wees nie. Die All Blacks het ‘n ander spel patroon as die bokke, en SA doen hulle self geen guns om soos die All Blacks te probeer speel, net om die toeskouers gelukkig te maak nie. Speel wen rugby, maak nie saak hoe dit lyk nie.

Anoniem ·

Korrek Riaan, ek neem enige dag ‘n lelike wen bo ‘n mooi verloor.

piet ·

Net jammer ons verloor teen die AB’s maak nie saak hoe ons speel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.