Kan die Bulls die geskiedenis herhaal?

Elke rugbyspan het ʼn span wat hy liefs wil vermy.

Jare gelede het Noord-Transvaal maar bra katvoet vir Wes-Transvaal geloop.

Die ou De Beersstadion in Kimberley was vir menige spanne ʼn begraafpaas, vra maar die Springbokgelaaide Noord-Tranvaalse span wat met 11-9 deur Griekwas in die Curriebeker-eindstryd van 1970 geklop is.

Suidoos-Transvaal het die Westelike Provinsie se partytjie in die Lionbekerreeks versuur, baie min spanne wou na Windhoek reis om teen Suidwes-Afrika te speel en dit was taboe om Natal se naam in die negentigerjare in sitkamers in Pretoria te noem.

Die Crusaders is ongetwyfeld die suksesvolste span in die Superreeks.  Hulle het sewe van die 21 eindstryde gewen, vier meer as die Blues en Bulls.

Maar teen watter span het die Crusaders hul swakste vertoningslys? Teen die Bulls, ja, die Bulls.

Van die 24 wedstryde tussen die twee spanne het die Crusaders 14 gewen en die Bulls 10. Die Crusaders het die afgelope nege jaar maar swaar getrek. Hulle is vyf keer deur die Bulls geklop – vier keer op Loftus Versfeld en in 2010 in die Orlando-stadion in Soweto, toe Loftus sy vere vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi reggeskud het.

Is daar iets in die drinkwater, of is dit tuisveldvoordeel of in die kop?

Die All Blacks het tog nie ‘n probleem om op Loftus te wen nie. Ja, hulle is in 1970 met 17-6 op Loftus geklop, maar is sedertdien onoorwonne. Hulle het ook in 2003 hul grootste oorwinning (52-16) oor die Bokke op Loftus behaal en die ander toetse met 45-26, 34-18 en 33-26 gewen.

Die meeste van die Crusadersspanne was met All Blacks gelaai, legendes soos Richie McCaw, Dan Carter en Justin Marshall, maar wanneer hulle op Loftus gespeel het, het dinge verkeerd verloop.

Nou is die vraag, kan die Bulls dit Saterdag weer doen? Die Crusaders is uitgedun, daar is net een All Black in die agterlyn, twee van hul grootste sterre, Sam Whitelock en Kieran Read is nie beskikbaar nie, maar wie is bereid om geld op die Bulls te waag?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Doeks Joubert ·

Gee die Bulle n kans-geen span is onoorwinlik nie.Kyk wat het met die Bokke teen Japan gebeur.Bulle 32 Crusaders 14.Go Bulle.

Velle ·

Ons hoop maar vir groot skare ondersteuning en baie braai vure as inoefening vir die luide aansporing

thelsa ·

Soos die Bulls deesdae speel twyfel ek of hulle dit sal regkry om in rustyd ‘n drie te kan druk

Anton ·

Ag weet jy. Al julle anti Bulls. Lees iets anders en lewer kommentaar daar

Kiewiet ·

Die bulle met al hulle spelers van ander provinsies is pateties al hoe hulle wen is met die hulp van die ref

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.