Kan die geskiedenis hom herhaal?

Kitch Christie – hy het Transvaal reggeruk en op die wenpad geplaas.

Die verwagtinge was in 1993 maar laag dat ʼn Suid-Afrikaanse rugbyspan die eerste Super10-reeks sou wen.

Hoe dan anders, want die Bokke is in 1992 met 27-24 deur die All Blacks geklop, met 26-3 deur die Wallabies opgefrommel en het aan die einde van die jaar teen Frankryk (29-16) en Engeland verloor (33-16). Daar was darem een ligpuntjie op die toer, toe die Bokke die Franse met 20-15 geklop het.

Die Super10 was voor die beroepsera en het net twee jaar gehou, want in 1995 was daar die Wêreldbeker en in 1996 was daar volwaardige beroepsrugby en die begin van die Super15.

♦  Op Ellispark het dr. Louis Luyt, die destydse rugbybaas van die Transvaalse Rugby-unie, die “ongewone” gedoen deur Kitch Christie, wat onder meer vir Harlequins in Pretoria afgerig het, uit amperse noodweer as die Rooibontes se afrigter aan te stel.  Luyt wou vernuwing en sukses gehad het en die span van 1993 was onoorwonne in 19 wedstryde (18 oorwinnings en een gelykop).

ʼn Groot groep Noord-Transvaalse spelers was reeds op Ellispark en ander het gevolg:  gesoute, ervare en talentvolle spelers soos Theo van Rensburg, Gavin Johnson, Johan Roux, Hannes Strydom, Uli Schmidt, Chris en Charles Rossouw en Rudolf Straeuli.

Hulle was saam met Francois Pienaar, Hennie le Roux, Japie Mulder, Chris Dirks, Kobus Wiese en Ian Macdonald die gom wat die span aanmekaargehou het.

Niemand het verwag dat Transvaal op 22 Mei 1993 Auckland in die Super10-eindstryd sou klop nie. Auckland was immers gelaai met All Blacks, altesame 13 van hulle met Zinzan Brooke wat in die tweede helfte opgestuur is.

Maar die Rooibontes het vasgebyt en deurgedruk en met opwindende rugby die eindstryd met 20-17 gewen.

Dit was die voorloper van ongekende sukses in 1993: vroeg in die seisoen M-Net se aandreeks, die Super10-trofee en toe volg die  Lion- en Curriebeker.

Kan die geskiedenis hom Saterdag in die eindstryd teen die Crusaders herhaal?

Net soos in 1993 toe Sean Fitzpatrick die All Blacks gelei het, is die huidige All Black-kaptein, Kieran Read, in die Crusaders se span. Net soos in 1993 toe daar sewe All Blacks in Auckland se pak was, is daar ook sewe All Blacks in die Crusaders se pak.

Net soos in 1993 toe ʼn Noord-Transvaler die Rooibontes afgerig het, staan die oud-Noord-Transvaalse slot Johan Ackermann ook op die drumpel van afrigtersroem.

Net soos in 1992 toe die Bokke geploeter het, was die Bokke in 2016 ook teen die planke.

Die spanne vir 1993 se eindstryd was:

Transvaal: Theo van Rensburg, Chris Dirks, Bernard Fourie, Japie Mulder, Pieter Hendriks, Hennie le Roux, Johan Roux, Deon Lötter, Ian Macdonald, François Pienaar (kaptein), Hannes Strydom, Kobus Wiese, Johan le Roux, Uli Schmidt, Balie Swart.

Auckland: Shane Howarth, Terry Wright, Eroni Clarke, Lee Stensness, Va’aiga Tuigamala, Grant Fox, Nu Nu’uali’itia, Michael Jones, Mark Carter, Brendan Jackson (vervang deur Zinzan Brooke), Richard Fromont, Robin Brooke, Olo Brown, Sean Fitzpatrick (kaptein), Craig Dowd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die Leeus kan as hul die wedstryd wil wen nie toelaat dat die Crusaders soos die Hurricanes
‘n groot voorsprong opbou.Dit is dus ‘n saak van vasbyt en volgehoue druk vir 80 minute,want anders as die Hurricanes gee die Crusaders nie maklik ‘n voorsprong prys nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.