Kan die nuwe Boktruie têkkel?

Die nuwe Boktrui. Foto: Asics/Facebook

Die vere maak die voël, het die ou mense altyd gesê.

Toe die nuwe Springboktrui Woensdag bekend gestel is, het dit geklink asof die Franse reeds geklop is, dat die Rugbykampioenskap so te sê gewen is en dat die toer aan die einde van die jaar kinderspeletjies sal wees.

Dis enige nuwe truieborg se strategie om hul nuwe truie te bemark, om seker te maak dat hul belegging die nodige vrugte sal oplewer.

Maar toe lees ek op dieselfde dag dat die All Blacks se nuwe trui van ʼn ander klereborg ook bekend gestel is. Selle ou storie, die ligste trui nog, onderwerp aan streng toetse in een of ander laboratorium in Duitsland of Japan.

Die Nieu-Seelanders glo dat ‘n nuwe trui en embleem wat aan 1904 se span herinner –wat die eerste keer teen die Britse Leeus gespeel het – die All Blacks vanjaar tot groot hoogtes teen die Britse en Ierse Leeus sal aanspoor. Wanneer die toer verby is en ondersteuners duisende daarvan ten duurste bekom het, sal die truie straks weer verander.

Dit het my laat dink aan 2003, toe die Bokke se noupassende truie kort voor die Wêreldbekertoernooi bekend gestel is. Voor die kameras was die Bokke die enige glimlagge, maar agteraf is daar gebrom, want as jy eers in die trui was, het jy gesukkel om daaruit te kom, veral die vaste voorspelers. As ek reg onthou, was daar spesiale truie vir die stutte, slotte en agterspelers.

Op een van die mediakonferensies is die vraag gevra of die truie die bal kan vang en têkkel. Dit is nie goed ontvang nie.

En boonop, hoe hét die Bokke in 2003 se toernooi gevaar?

Jare gelede het al die truie, gewoonlik van suiwer wol vervaardig, lang moue gehad, want rugby is in die winter gespeel. Wanneer dit gereën het of so skuins voor rustyd, het die truie soos swaar sakke aan die natgeswete voorspelers gehang.

Ek onthou nog hoe Piet du Plessis, wat vir Tukkies en Noord-Transvaal slot gespeel het, altyd die moue van sy truie afgesny het. Du Plessis is in 1972 bo Johan Spies vir die Bokke se rampspoedige toets teen die Engelse toerspan gekies. Daar word vertel dat Dok Craven glo briesend was toe hy in die Bok-kleedkamer ingestap het waar Du Plessis besig was om sy Boktrui se moue af te sny.

Die Bokke is met 18-9 geklop…en Du Plessis het nooit weer vir die Bokke gespeel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris ·

Lyk na goeie trui wat bietjie van die ou terug bring. Een massiewe negatief – vandat hul ons Springbok embleem van ons spelers se ” HARTE” oorgeskuif het na regterbors het ons die wil en die trots verloor. Enigste land wat hul rugbywapen moes oorskuif van links na regs tydens die laaste World Cup!!! Kyk nou hoe pluk hul die “Pro” – teas.

Wicus ·

Hallo Pieter, wil jy nie vir ons ‘ n artikel doen oor die amper Bokke nie, hulle wat net ongelukkig was, vinnig dink ek aan Chris Luther, Tos Smith, Herklaas Engelbrecht, Toy Dannhauser, Stephensons, diesulkes. Daar is baie manner oor baie jare wat die Groen en Goud eer sou aandoen as hulle die geleentheid gehad het. Dalk moet iemand so boek skryf …..

Veritas ·

Wat van Jan Els van Oos-Tvl? Hy was blykbaar reeds gekies en daarvan verwittig toe Errol Tobias se naam skielik aangekondig word.

Gert ·

Nuwe trui maar Bok nog steeds op verkeerde plek !
Hulle moet eerder die nommers voor op die tuie sit dan lyk dit of die bokke vorentoe speel.

Fires ·

Wonder wat sou Dok Craven gese het van luke watson wat op sy Springbok trui wou kots

CORRIE ·

En wat van Eric Herbert van Noord Vrystaat. Nellie Smit het hom baie hoog gerate.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.