Kan Duitse twis dalk Kings se redding wees?

Kobus Potgieter en Hans-Peter Wild. (Foto: Twitter)

Sonder om die kar voor die perde te wil span, duik die vraag op of die huidige haaksheid in Duitse rugby nie dalk die sukkelende Kings-franchise se redding kan inhou nie.

Die feit dat die Switserse miljardêr Hans-Peter Wild se besoek aan Port Elizabeth juis saamval met ʼn oënskynlike dooiepunt in sy borgskaponderhandeling met die Duitse Rugbyunie (DRV) bring die moontlikheid van ʼn verband tussen die twee aspekte na vore.

Wild het na berig word reeds €30 miljoen (oor die R450 miljoen) aan die ontwikkeling van Duitse rugby bestee sedert hy tien jaar gelede die Wild-rugbyakademie in Heidelberg, Duitsland, tot stand gebring het.

Kobus Potgieter, ʼn oud-Tukkie en die rugbydirekteur van die akademie, het in dié rol en as afrigter van die Duitse nasionale span, saam met ʼn aantal spelers met onder meer Suid-Afrikaanse wortels ʼn reuserol gespeel om van Duitsland ʼn krag in Europese rugby te maak.

Duitsland het dermate gevorder dat hy in hierdie stadium nog ʼn sterk aanspraakmaker op deelname aan die Rugbywêreldbekertoernooi in 2019 in Japan is.

Die DRV (en glo Wêreldrugby ook) is blykbaar nie gediend met die “sterker houvas” (as die DRV) wat Wild se Vereniging vir die Bevordering vir Rugby (GFR) op die toetsspelers het nie.

Wild, wil dit op sý beurt lyk, het bedenkinge oor die wyse waarop die borgskap deur die DRV bestee kan word.

Die beroepspelers is tans regstreeks deur die GFR gekontrakteer, en nie deur die DRV nie.

Potgieter het vroeër aan Pale Toe! gesê daar sal gesien moet word hoe dinge in die volgende paar maande kan vorder.

“Ons program sal aangaan, maar ons fokus kan dalk verander,” het hy gesê.

Kan die Kings dalk deel van ʼn veranderende fokus wees? Sou Wild dalk oorweeg om sy bronne (akademie en mannekrag ingesluit) in die Oos-Kaap te hervestig?

Te oordeel na die Duitse sage lyk Wild – ook die eienaar van die klub Stade Français in die Top14-liga – egter nie na ʼn man wat hom met die politiekery op die Suid-Afrikaanse rugbywerf sal vereenselwig nie.

Net die tyd sal leer wat sy besoek aan Port Elizabeth oplewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.