Kan één punt werklik sóveel verskil maak?

Die reaksie op Saterdag se puik Springbokvertoning teen die All Blacks, laat onwillekeurig die vraag ontstaan hoe één punt in ʼn bestek van twee jaar só ʼn groot verskil kan maak.

Herkou gerus ʼn bietjie hieraan –

Feit 1:

24 Oktober 2015 op Twickenham, Londen: Nieu-Seeland 20, Suid-Afrika 18 (twee punte verskil).

Reaksie 1:

Suid-Afrika is tweede op die wêreldranglys.

Die land is in sak en as.

Die Bokafrigter se kop word geëis. Sy wenpersentasie is 66,6 in 48 toetse – nogal die derde beste uit 11 afrigters sedert die beëindiging van isolasie.

Twee gewese Springbokkapteins stuur ʼn veldtog van stapel om hom vervang te kry.

Hy swig onder die onmenslike druk en bedank.

Feit 2:

7 Oktober 2017 op Nuweland, Kaapstad: Nieu-Seeland 25, Suid-Afrika 24 (een punt verskil).

Reaksie 2:

Suid-Afrika is vyfde op die wêreldranglys.

ʼn Nuwe versigtige optimisme heers onder die ondersteuners.

Ja, die afrigter se kop word ʼn jaar lank al geëis, maar nou lyk dit dan of dinge regkom. Sy wenpersentasie is 42,9 in 21 toetse. Net drie uit die 12 afrigters sedert die einde van isolasie het swakker gevaar, en nie een van hulle is vir langer as vyf toetse geduld nie.

ʼn Mens hoor g’n woord van die Bokkaptein-aktiviste van 2015 nie.

Die afrigter is na berig word “positief” oor sake ingestel.

Vrae:

Hoe op aarde is dit moontlik dat die verskil van ʼn enkele punt, twee destyds teenoor een Saterdag, só ʼn uiteenlopende reaksie tot gevolg kan hê?

Is ons só vuisvoos dat ons nie meer tussen die krummels en die brood kan onderskei nie?

Is ons só honger vir prestasie dat die krummels ons “versadig?”

Of wil ons maar net so gou as moontlik van die vorige wedstryd se 0-57-loesing vergeet…om ons in November weer in die Noordelike Halfrond te pletter te loop?

Het iemand miskien al gewonder of daar dalk ʼn groter plan bestaan om rugby as spel in Suid-Afrika te vernietig?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Nico K ·

Ek persoonlik dink die groot negatiwiteit oor die 2 punte in die wêreldbeker teen NZ was belaglik. Ek dink dit het maar oor die verloor teen Japan gegaan. En daardie verloor teen Japan het geen invloed in die toernooi gehad nie! Ons ondersteuners is al jare lank bietjie onrealisties in hul reaksie. Springbokafrigters hou nie lank nie. En dis regtig nie altyd hulle skuld nie. Die bal is nie rond nie en partykeer wip hy reg en anderkeer nie.

kollie ·

Wel, die afrigter wat in ‘n wereldbeker-jaar afrig, kry gewoonlik ‘n paar maklike toetse en wenne teen spanne teen wie hulle nooit speel nie…maar toe gaan verloor Heineke in elk geval teen Japan. Sy rekord teen die AB’s eindig een uit sewe en boonop speel hy met ou manne van 2007 terwyl ‘n nuwe span gebou moes word. Kom ons kyk hoe lyk Coetzee se rekord na die volgende wereldbeker.

Veritas ·

Kollie, hou in gedagte dat Heineke Meyer se wêreldbekerspan darem derde in die wêreld geëindig het. Coetsee se span het derde uit vier plekke geëindig . Iemand wat dit prys is regtig met min tevrede.

SuperBul ·

Gaan ons werklik bereid wees om die selfde foute vir nog twee jaar te duld. AC gaan die rekord boeke herskryf. Maar ek is een van die wat Saterdag sien vir wat dit was, nog n nederlaag. Ek stem saam met skrywer van die artikel maar sal dit reguit se. Ons is nou te bang om dit reguit te se want dit is nie polities korrek nie. Ons Springbokke is nou net n sambok om ons verder te straf en SARU doen die vuilwerk.

Frans C ·

Daar is geen vergelyking tussen die rugby waarmee meeste mense groot geword het en dit wat tans deur die voorste spanne gespeel word.Suid Afrika het net eenvoudig te laat wakker
geskrik en gedink Curriebekerrugby van so’n hoë gehalte is dat Springbokrugby vanself sou regkom.
Dit is net eenvoudig nie waar nie,ons spanne steek sleg af in Superrugby by die voorste NZ-spanne en is ons almal bly as een span darem die eindwedstryd haa, terwyl die NZ-spanne die kompetisie domineer.

Die vout lê dus mi nie alleen by die Springbokafrigter nie,maar by die manier hoe rugby
plaaslik benader en afgerig word.Ons sien dikwels skitterende spelers op skolevlak maar hoor dan later niks meer van hulle nie.

Die Springbok sewespan het bewys dat met die regte benadering en afrigting sukses op die hoogste vlak moontlik is.Afrigters se sukses word tans gemeet aan hoeveel wedstryde
sy span wen en nie soseer aan die gehalte rugby wat gespeel word nie.Vir die wen ten alle koste word daar ook nie geskroom om kleiner unies van hul talent te stroop nie,al sit die dan ook net op plaasvervanger van die groot unies.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.