Kan ‘Force se reeks’ Curriebeker verder knou?

Andrew Forrest – nuwe rugbyreeks. (Foto: Facebook)

Nadere besonderhede oor die beoogde Indo- Stille Oseaan-kampioenskap (IPRC) waarin die Western Force ʼn nuwe tuiste moet vind, is Woensdag bekend gemaak, maar daar is ʼn haakplek – en die reeks kan verwikkelinge vir die Curriebekerreeks inhou.

Die mynmagnaat Andrew Forrest het aangekondig dat die IPRC-reeks aanstaande jaar sal afskop, uit ses spanne sal bestaan, oor tien weekrondes van Augustus tot Oktober (ná die Superrugbyreeks) beslis sal word, en die topvier spanne in ʼn halfeindronde betrek sal word.

Die Australiese Rugbyunie (ARU) sal egter die reeks moet goedkeur, andersins sal die Force se spelers nie vir die Wallabies in aanmerking kom nie.

Dit sal deurslaggewend wees om toetsspelers en nuwe aanspraakmakers vir die Force te behou; en vir Forrest se planne om uitgeweke Wallabies na Australië terug te bring.

Hy het glo darem sy verskille met die ARU bygelê, en verwag nie teenkanting uit dié oord nie.

Na berig word, is navrae reeds uit 20 lande vir deelname aan die reeks ontvang, wat na verwagting spanne uit Nieu-Seeland, die Suidsee-eilande, Japan, Singapoer en Hongkong kan insluit.

Forrest stel ʼn sentrale spelerspoel in die vooruitsig om franchise’e in “swakker rugbygebiede” te versterk.

Gesien die beoogde tydgleuf, moet Suid-Afrikaners ook maar duim vashou dat dit nie nog ʼn oorsese heenkome vir belowende spelers uit die verwaterde Curriebekerreeks bied nie.

Ondanks al die bravade wat die aankondiging voorafgegaan het – onder meer dat dit ʼn regstreekse teenvoeter vir Sanzaar se Superrugby sal wees – wil dit van die kantlyn af begin lyk of die berg ʼn muis gebaar het.

Die eerste vrae wat opduik, is watter mate van TV-geld die reeks kan trek, en of die IPRC-spelerskontrakte geldelik met Superrugby s’n sal kan meeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack Russl ·

Daar is klaar met ARU gepraat en dit blyk of die spelers wel vir die Wallabies in aanmerking sal wees.

Die vraag moet eerder wees of die reeks die NRC sal knou. Hulle is gelukkig as hulle 4000 toeskouers by ‘n wedstryd het.

Die beste vir Aus rugby sal wees om saam met Twiggy te werk en die NPC en IRPC moontlik saam te smelt. NPC is waar hulle spelers moet ontwikkel (soos ons CC) , as dit wegval het hulle nog groter probleme

SR kontrakte hoef nie geldelik met IPRC mee te ding nie, dit word om verskillende tye gespeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.