Kan Goue Beker faam van naelbytfinale volhou?

Riaan O’Neill van Valsbaai – een van die sterre wat Saterdag in aksie is. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Die SA Rugbyunie (Saru) se Goue Bekerreeks vir die oop klubs het ʼn reputasie van naelbyt-eindstryde opgebou.

2013: Despatch 26, College Rovers 24.

2014: Rustenburg Impala 13, Roodepoort 11.

2015: Durbanville-Bellville 31, Rustenburg Impala 30.

Slegs verlede jaar kon die wenner, Impala, met meer as twee punte seëvier, toe hy Valsbaai met 48-24 verslaan het.

Saterdag, op die Philip Herbsteinveld in Constantia, Kaapstad, durf Valsbaai (Westelike Provinsie) en College Rovers (KwaZulu-Natal) mekaar in die reeks se vyfde eindstryd aan.

Albei het reeds ʼn kans gehad om die titel te wen – albei het in dié opsig misluk. Hulle weet watter opperste inspanning dit verg om die eindstryd te haal; hulle ken die bittere teleurstelling om oor die laaste hekkie te struikel.

Sowel die Baai as Rovers het bykomende aansporing om Saterdag te wen: die Kapenaars het die grootste eindstryd-nederlaag in die GB-geskiedenis om reg te stel; die Durbaniete is ná verlede jaar se teleurstellende vertoning in die reeks by hul ondersteuners in die skuld.

Valsbaai het op spannende wyse met 13 man vasgebyt om die verdedigende kampioen, Impala, met 34-31 in die halfeindstryd uit te skakel; Rovers het ewe dramaties QBR op eie werf in Pretoria met 31-28 getroef.

Riller

In die groepfase het Valsbaai vir Rovers in Durban met 15-14 geklop (rustyd 14-7).

ʼn Mens wil-wil sê: Hier kom ʼn riller.

Eindstryde het egter die manier om teleur te stel as ʼn mens te veel daarvan verwag. Hopelik is Saterdag nie so ʼn geval nie.

Albei spanne is propvol sterre.

Die heelagters Adnaan Osman (Valsbaai, 62) en Gavin Scott (Rovers, 53) tel tussen die voorste puntemakers in die reeks.

Danie Roux, die regtervleuel van Valsbaai, se sewe drieë plaas hom vierde op die lys van driedrukkers.

Die tuisspan spog met ʼn uitmuntende senterpaar in Riaan O’Neil, wat toets- en sewesrugby vir Zimbabwe gespeel het, en Richard Lawson, wat die Opkomende Springbokke verteenwoordig het.

Besielend

Graham Knoop lewer nie net uitmuntende spel as slot en lynstaanman nie, sy besielende kapteinskap is goud vir sy span werd.

Rovers sal ook rekening moet hou met die losvoorspelertrio Ryan Olivier, Michael Botha en Tapiwe (Taps) Tsomondo, die WP se klubspeler van die jaar vir 2017.

Op die koop toe is daar die vaskopstut Ashley Wells, wat benewens die harde werk voorlangs geen vreemdeling agter die doellyn is nie.

Dat die Baai spelers soos Brandon Wood (slot), Dylan Frylinck (skrumskakel) en Mustaqeem Jappie (veelsydige agterspeler) van die bank af kan speel, spreek boekdele.

Generaal

In sy kaptein, Chris Jordaan, het Rovers ʼn generaal wat die spel met groot sukses kan dikteer.

Die vleuel Tythan Adams was verlede jaar se agterspeler van die reeks, en het ʼn skof in Skotse rugby agter die rug. Hy en die senter Brandon Bailing het albei vanjaar Curriebekerrugby vir die suksesvolle Sharks gespeel.

Die woelige Matt Jones (flank) het ʼn driekuns in die halfeindstryd teen QBR behaal, en die slot Chris van Leeuwen is ʼn yster.

In die voorry sal die stutte Thierry Kaute (vaskop) en Jarrett Crouch (loskop) sake vir die tuisspan warm maak.

Met Liam O’Connell (flank) en Warren Randall (skrumskakel) op die bank blyk dit dat Rovers insgelyks nie ʼn gebrek aan diepte het nie.

TV-teleurstelling

♦ Tot die teleurstelling van rugbygeesdriftiges in die res van die land is die eindstryd nie op TV te sien nie.

Clinton van der Berg, die kommunikasiebestuurder van Supersport, sê dit sou te duur wees om wedstryde in die reeks te beeldsaai.

Supersport deel die ondersteuners se teleurstelling, maar moes dié moeilike besluit neem, het hy aan Pale Toe! gesê.

Die spanne –

Valsbaai

15. Adnaan Osman, 14. Danie Roux, 13. Richard Lawson, 12. Riaan O’Neill, 11. Marcello Sampson, 10. Meryck Ward, 9. Mohammad Damon, 8. Ryan Olivier, 7. Michael-Dean Botha, 6. Tapiwa Tsomondo, 5. Brent Stevens, 4. Graham Knoop (kaptein), 3. Ashley Wells, 2. Roan Dalzell, 1. Wesley Futter. Bank: 16. André van Vuuren, 17. Simon Raw, 18. Brandon Wood, 19. Jody Reyneke, 20. Dylon Frylinck, 21. Carl Kohne, 22. Mustaqeem Jappie.

College Rovers

15. Gavin Scott, 14. Mark Richards, 13. Richard Bamber, 12. Brandon Bailing, 11. Tythan Adams, 10. Chris Jordaan (kaptein), 9. Grant Williams, 8. Kelvin Adam, 7. Graham Geldenhuys, 6. Matthew-Lee Jones, 5. Chris van Leeuwen, 4. Matt Tweddle, 3. Thierry Kaute, 2. Byron van der Nest, 1. Jarrett Crouch. Bank: 16. Jandré Jacobs, 17. Luciando Santos, 18. Molotsi Bouwer, 19. Liam O’Connell, 20. Warren Randall, 21. Mondli Nkosi, 22. Grant Rattray.

Afskoptyd: 14:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.