Kan Lavanini soos Ackers sy vuiste in die laai bêre?

Los jou nonsens, sê Johan Ackermann vir die Engelse speler.

Dit het met baie ander spelers voor hom ook al gebeur: Ruk jouself reg of verloor jou plek in die span.

Die Argentynse afririgter, Daniel Hourcade, het die 24-jarige Tomas Lavanini uit die Pumas se toergroep gelaat vir hul komende toetse in die Rugbykampioenskap teen Nieu-Seeland en Australië.

Lavinini was een van die groot skoorsoekers in verlede Saterdag se toets in Salta teen die Bokke.

Sy dissipline het kom kwaai in die steek gelaat want afgesien daarvan dat hy van nêrens af ingestorm het om bolle te rol, het hy ʼn tweede geelkaart gekry – wat outomaties tot ʼn rooie gelei het: vir ongeoorloofde spel.

Hy is nog jonk, het natuurlike talent en kan homself regruk, maar dit gaan baie gevra wees in ’n land waar daar maar eenkant toe gekyk word wanneer dissipline lol.

Hy behoort ʼn les uit die boek van Johan Ackermann te neem, wat ook op die harde manier geleer het.

Jare gelede, toe Ian McIntosh die Bokke nog afgerig het en hulle in Pretoria voorberei het, het hy ná ʼn oefenkamp ʼn oefenwedstryd teen Pretoria Polisie gereël.

Mac wou kontak vir sy Bokke hê, maar dit moes beheersde aggressie gewees het.

Ackers, ʼn jong polisieman, het die draaiboek nie reg gelees nie en het die Springbokslot Mark Andrews vroeg-vroeg “reggesien”.

Mac was briesend en die oefenwedstryd is ná slegs ʼn paar minute stopgesit.

“As dit jou houding is, sal jy nooit vir die Bokke speel nie,” het Mac briesend gesê.

Ackers het geluister en nooit weer toegelaat dat sy humeur hande uitruk nie. Hy was ʼn yster, jy wou nie met hom skoorsoek nie, maar hy het daardie dag op Loftus B geleer wat beheersde aggressie is.

Kan Lavanini dit doen? Dit gaan net van homself afhang.

Afgesien van Lavanini se weglating het Hourcade vyf ander spelers by sy groep gevoeg: die vleuels Santiago Cordero en Manuel Montero, die losskakel Santiago Gonzalez Iglesias en die losvoorspelers Benjamin Macome en Rodriogo Baez.

Die Pumas se groep –

Agterspelers:
Joaquin Tuculet, Ramiro Moyano, Emiliano Boffelli, Manuel Montero, Santiago Cordero, Matias Moroni, Matias Orlando, Jeronimo de la Fuente, Juan Martin Hernandez, Nicolas Sanchez, Santiago Gonzalez, Tomas Cubelli, Martin Landajo.

Voorspelers:
Juan Manuel Leguizamon, Tomas Lezana, Benjamin Macome, Pablo Matera, Rodrigo Baez, Javier Ortega Desio, Matias Alemanno, Guido Petti, Marcos Kremer, Ramiro Herrera, Enrique Pieretto, Lucas Noguera Paz, Nahuel Tetaz Chaparro, Santiago Garcia Botta, Augustin Creevy (kaptein), Julian Montoya.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gideon ·

Soos ek dit het, het Andrews die draaiboek nie reg gelees nie, en hom lelik met ‘n jong Ackerman misgis – letterlik en figuurlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.