Kan Luiperds-medisyne dalk Saru-geldpyne stil?

ʼn Mens kan nie help nie om te wonder of die suksesvolle omkeerstrategie wat die Luiperds se geldsake betref nie dalk ook die regte medisyne kan wees om die SA Rugbyunie (Saru) se geldpyne te stil nie.

Gesien in die lig van Saru se aangekondigde verlies van om en by R33 miljoen, en die Luiperdrugbyunie (LRU) se verklaring Vrydag dat sy geldsake gesond is nadat hy twee jaar gelede ʼn tekort van R6 miljoen rand moes aanvul, duik dié vraag onwillekeurig op.

Dan kry die Luiperds-president, André May, se uitdaging van die Saru-president, Mark Alexander, in Vrydag se Saru-bestuursverkiesing ook ʼn nuwe betekenis.

Die LRU sê in sy verklaring dat May, teen die agtergrond van die nuus dat verskeie rugbyunies finansieel swaar trek, baie in sy skik is met die feit dat die Luiperds die tweede agtereenvolgende jaar goeie finansiële resultate gelewer het – ondanks die feit dat die bond se begroting in 2017 deur Saru met R2,4 miljoen ingekort is.

Hoewel die Luiperds aandui dat hulle geen uitstaande skuld het nie, prikkel dit die nuuskierigheid dat die verklaring ongelukkig geen winsbedrag noem nie.

“Die 2018-boekjaar bied sy eie uitdagings weens die feit dat die Luiperds se begroting met 52% besnoei is. Onder May se leiding het die Luiperds reeds proaktief opgetree en ʼn proses van kostebesnoeiing begin wat daarop gemik is om die unie steeds as ʼn lopende saak te bedryf,” lui die verklaring onder meer.

Luidens dié verklaring beplan die LRU ʼn transformasie-indaba wat alle klubs en geassosieërde lede sal insluit, om ʼn ooreenkoms te bereik om transformasie op alle gebiede verder te bevorder en te voldoen aan Saru se nuutste transformasiehandves.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.