Kan Mitchell ʼn wenspan vir die Bulls koop?

John Michell (Photo @SAnews)

Die Blou Bulle Maatskappy se direksie sal die wysheid van Salomo moet hê voordat daar aan die eise van die afrigter, John Mitchell, toegegee word om R90 miljoen aan ʼn spelersbegroting te bestee.

Mitchell wil ʼn span koop wat sy man in die Superrugby-reeks kan staan en wat trouens die reeks kan wen.

Maar kán jy ʼn wenspan koop?

Sekerlik ja, maar ook nee.

Wat van die Franse rykmansklubs soos Toulon en Montpellier, wat nie eens die onbesonge Castres kon keer om die Franse Top14-reeks te wen nie? Wat van Leinster wat in die Europese Kampioenebeker-reeks geseëvier het.

Koop die Crusaders werklik spelers, of word die spelers se vaardighede nie van jongs af reg ontwikkel nie?

Mitchell se voorstelle is op ʼn onlangse Bulls-beraad bespreek en daar is geen middeweg nie.

Óf jy stem saam daarmee (en hoop dat dit vrugte sal afwerp) óf jy stem daarteen.

Die Bulls se totale spelersbegroting was verlede jaar volgens ʼn Rapport-ondersoek R68 miljoen vir 151 spelers. Dit was minder as dié van die Westelike Provinsie (R78 m vir 128 spelers … en wat kan hulle daarvoor wys?) en ’n rapsie meer as die Lions (R66 m vir 117 spelers) en Sharks (R65 vir 111 spelers). Wedstrydgeld, wenbonusse en ander voordele soos bydraes tot ʼn mediese fonds en klere is van die bedrae uitgesluit.

Die Bulls se Superrugby-speler met die grootste kontrak het verlede jaar R3,7 miljoen verdien. Vier Bulls het ook Springbokkontrakte gehad, wat ʼn verdere R1,5 miljoen se inkomste was.

Die Bulls-spelers se gemiddelde Super-salaris was R1 110 239, wat minder is as wat die Stormers (R1 432 735), Lions (R1 262 975) en Sharks (R1 224 801) se spelers gemiddeld verdien het.

Wat het Mitchell in gedagte?

Hy wil eerstens korttermynsukses behaal. Hy wil ervare voorspelers soos Duane Vermeulen, Schalk Brits, Jean-Luc du Preez en Frans Malherbe bekom en met ʼn monsterpak alles voor hom platvee om dan met behendige, vaardige agterspelers die bresse te slaan.

Ek het baie agting vir Mitchell as afrigter en sy kennis van die spel. Volgens my berekeninge het hy reeds 16 afrigtersposte sedert 1994 beklee toe sy spelersloopbaan tot ʼn einde gekom het. Maar die vraag is of hy nie te gou verveeld raak of dalk in ʼn droomwêreld leef nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Henk ·

Wat van hy rig die spelers wat hy het na behore af? Leer hulle dit wat jy kan en leer meer oor hulle natuurlike talent. Kombineer die twee en jy het n wenspan.

LOL ·

Vra eerder vir Josh Strauss en Johan Ackermann oor Mitchell se vermoens ; en toe hardloop albei weg nadat hulle van hom ontslae geraak het. Boeremafia weereens flater begaan.

kas ·

Die leeus het ook gekoopte spelers maar Akkies het 3 jaar gelede ‘n kern gevat en hulle ontwikkel en hulle talente raak gesien en ontwikkel tot waar die leeus vandag is.

Hendrik ·

Whahahahaha dit gaan niks help nie. Britz en Vermeulen moet op pensioen gaan al.

Herman Goosen ·

Mitschell was ‘n ramp met sy vorige probeerslag as SA Superrugby afrigter. Dieselfde versukkelde span is tot kampioene bevorder deur Streulli. Sekerlik sal die Bulle wyser wees deur sulke geld eerder in ‘n beter (meer passievolle) afrigter te bele. Mitchell sal in ieder geval vining padgee as die waagstuk nie vrugte afwerp nie. Die ander nadeel van spelers koop is dat hulle net weer sal aangeweeg as nog beter aanbiedinge hulle pad kom.

Koos1 ·

Dis juis waar die probleem lê, wen of verloor, speel of langs die veld of by die huis sit, die spelers kry die geld. Verander die salarisse na wen bonusse, en kyk hoe die spanne gaan speel.

jannie ·

dis die probleem….koop koop koop…..dan doen die mannetjies nie hul werk opi veld nie dan verloor hulle….dan wil almal die afrigter die skuld gee….dit help nie jy bring perd na watergat en maak hom drink nie…die manne wat speel moet op n glyskaal of so iets betaal word navolgens hulle wedstryd performance….sodra die mannetjie nie sy werk doen nie kry hy nie geld nie maar as hy perfrom dan pay hy lekker….dis al baie eue al bewys,sodra jy aan iemand se geld vat dan dans die poppe…dis al wat sal werk…oom Danie het destyds gese die val van die amateur kom sodra die manne betaal word en speel vir klomp geld….dis die moeilikheid….slaan daar waar dit die seerste maak…hulle geld…….dis al wat sal werk.

Frans C ·

Mitchell se houding weerspieël presies die probleem van Suid Afrika se rugby.Jy maak nie Springbokrugby beter deur spelers aan te koop nie ten koste van ander spanne nie.

Die Bulls het die titel vir die laaste keer in 2010 gewen toe hul die Stormers 25-17 geklop het.Die Stormers het twee ex-Leeus ingesluit,nl Jaque Fourie, en Bryan Habana, Bryan Habana het naam by die Leeus gemaak (Springbok) voordat hy deur die Bulls aangekoop is,nadat hy en Schalk Brits die Bulle laat skrik het in ‘n wedstryd.

Die twee groot name kon nie Stormers tot ‘n oorwinning neem nie.Dit help nie om een provinsiale span ten koste van ‘n ander te versterk nie.Om Springbokrugby sterk te maak,moet Suid Afrika ten minste 3 Super 15 spanne in die semi-finale hê om NZ-se dominasie te verbreek,

Ons moet dus eenvoudig alle Super 15 spanne versterk en dit kan ‘n mens net doen
om speler toewysing te doen na alle spanne en dit van die provinsies weg te neem.
Dink net hoeveel groter die Leeus se kans om te wen sou wees met ‘n paar Cheetahs in die span.

Die Cats het nie gewerk nie want provinsialisme het dit gekniehalter.Daarom moet
‘n nuwe struktuur uitgewerk word,die oue werk net nie meer nie. Aphiwe Dyantyi
het bewys dat met goeie afrigting spelers van kleur ‘n waardevolle bydrae kan maak.

piet ·

Hy sal moet koop. Daai bul spelers kan nie eers ”pass”, of n bal vang nie. Daar is absoluut niks wat ontwikkel kan word nie.

albert ·

Piet jy slaan die spyker op die kop, daar is nie salf te smeer aan die spelers wat hy nou mee speel nie. Hy sal moet stutte koop wat weet wat aangaan in die skrum, n hakker,n agsteman, n loskakal wat die spel kan lees en beheer neem en n binne senter wat weet wanneer om te breek of nie. Gaan terug in die bulle se tyd waar hulle baas was, was die pak sterk en die loskakel het beheer gevat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.