Kan SA Amerika se volgende kaptein oplewer?

usa-rugbyDit lyk of daar `n sterk moontlikheid bestaan dat Suid-Afrika `n toekomstige kaptein vir die Amerikaanse Arende kan oplewer.

Dis die afleiding wat `n mens kan maak uit `n stelling wat die ervare Suid-Afrikaanse afrigter Danie de Villiers, tans `n hulpafrigter van Eugene (Loffie) Eloff by die Austin Huns in Texas, die afgelope week op Facebook gemaak het.

Die man in die visier is die flank Hanco Germishuys, wat reeds verlede jaar Amerika se o.20-span aangevoer, en as 19-jarige al toetsrugby vir die Arende gespeel het.

Hy kom uit Kimberley se wêreld, en was `n leerling aan die landbouskool op Jacobsdal voor sy paadjie Amerika toe gelei het.

Eloff het juis ná die Huns se onverwagse groot sege van 45-14 die afgelope Saterdag teen die Red River-liga se kampioen en Amerikaanse nasionale naaswenner, die Austing Blacks, teenoor Pale Toe! na Germishuys se vertoning in die kragmeting as “ongelooflik” verwys.

Hy (Germishuys) het sedertdien by die Arende se groep vir Saterdag se wedstryd in die reeks om die Amerikas-rugbykampioenskap aangesluit.

Die Arende, wat deur die gewese Lions- en Goue Leeuafrigter John Mitchell gebrei word, is besig om `n sterk gunsteling te raak om die titel by verlede jaar se wenner en die vroeë gunsteling, die Argentynse Vyftiental, af te neem.

Die Argentyne speel dié naweek teen Brasilië, en sal nes die Yanks met maksimum punte wil wen, ingeval punteverskil uiteindelik deurslaggewend in die bepaling van die reekswenner is.

Die felste stryd Saterdag behoort tussen Uruguay en Kanada te wees, want dit sal waarskynlik op die ou end die derde plek in die reeks beklink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.