Kanada kwalifiseer, speel in Bokke se Wêreldbeker-groep

Kanada, wat nog nie een van die agt Wêreldbeker-toernooie misgeloop het nie, het Saterdag op die moeilike manier vir die negende gekwalifiseer toe hulle Hongkong in die heruitdun met die oog op aanstaande jaar se toernooi in Japan met 27-10 geklop het.

Daarmee het hulle die laaste plek in die 20-tal spanne verseker.

Hulle sal in Suid-Afrika se groep met die All Blacks, Italië en Namibië meeding.

Sake was kort ná rustyd in Saterdag se wedstryd in die Pierre Delort-stadion in Marseille nog redelik gelykop (12-10), maar die skopskoen van Gordon McRorie (drie doelskopppe en twee strafdoele) en twee drieë deur DTH  van der Merwe en een deur Ray Barkwill het die deurslag gegee.

Die oorwinning beteken dat Van der Merwe aan sy vierde Wêreldbeker-toernooi sal deelneem as hy gekies sou word en beserings vryspring.

Hongkong se punte is deur die voormalige Ikey- en Griekwasspeler Matt Rosslee met twee strafdoele behaal. Hy het ook Conor Hartley se drie verdoel.

♦ Duitsland, gelaai met Suid-Afrikaanse spelers, het die tweede plek in die heruitdun-reeks ingeneem toe hulle Saterdag met 43-6 teen Kenia gewen het. Die rustydtelling was 12-6.

Hulle het die Keniane in die skrums verniel en met die rolmale die wedstryd heeltemal oorheers en hulle 31 punte in die tweede helfte het nie as ʼn verrassing gekom nie.

Met die bonuspunt wat die Duitsers verdien het, het hulle tweede in die heruitdun-reeks geëindig.

Duitsland se drieë is deur Steffen Liebig, Jaco Otto, Sebastian Ferreira (3), Imad Aounallah en Kurt Haupt gedruk. Raynor Parkinson het vier keer verdoel.

Kenia se punte het van twee strafdoele deur Samuel Oelich gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.