Kanada lyk seker van nog ʼn Wêreldbeker-toernooi

Dit lyk of Kanada ook nie aanstaande jaar se toernooi om die Wêreldbeker (WB) in Japan sal misloop nie.

Die Esdorings het tot dusver nog in elke WB-toernooi gespeel, en die wyse waarop hulle Saterdag in Marseille, Frankryk, vir Duitsland oorheers het, voorspel niks goeds vir Hongkong in Vrydag se laaste ronde van die heruitdun nie.

Kanada het die kragmeting in die Pierre Delort-stadion met 29-10 gewen, en vier drieë gedruk om ʼn tweede bonuspunt-sege in die toernooi te behaal.

Hy was rustyd met 10-7 voor.

Die wenspan se losskakel, Gordon McRorie, het 14 punte met ʼn drie, drie doelskoppe en ʼn strafdoel aangeteken.

Die Suid-Afrikaners Dasch Barber (haker) en Raynor Parkinson (losskakel) het ál Duitsland se punte behaal.

Barber het ʼn drie gedruk skaars twee minute nadat hy die beseerde Kurt Haupt tydelik vervang het.

Parkinson het met die doelskop en ʼn strafdoel geslaag.

♦ Hongkong het Kenia in die toernooi se ander kragmeting met 42-17 verslaan.

Die Keniane het met ʼn vaart weggespring en was ná 23 minute met 12-0 voor, en rustyd met 12-7.

Hulle kon egter nie die pas in die tweede helfte volhou nie, en die Drake het in die 50ste minuut die voortou geneem, om dit nie weer af te staan nie.

Matt Rosslee (banklosskakel), ʼn gewese Curriebeker-speler van Griekwas, het met twee doelskoppe vir die wenspan geslaag.

Hongkong het van sy voorkeurspelers ʼn blaaskans gegee, en die samespel het aanvanklik te kort geskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.