Kanadese val vas teen Franse kampioen

Guiseppe du Toit – sewe punte. (Foto: Rugby Canada)

Die Kanadese Uitnodigingspan het in die eerste wedstryd van sy Franse toer teen die Top14-kampioen Castres Olympique vasgeval.

Die Franse klub was rustyd reeds met 26-3 voor, en het uiteindelik met 47-17 gewen.

Guiseppe du Toit, wat in Johannesburg gebore is, het sewe punte (twee doelskoppe en ʼn strafdoel) vir die besoekers behaal.

Die tuisspan het drie Franse toetsspelers uit Suid-Afrika vir die kragmeting gekies: Daniël Kotzé (stut), Rory Kockott (skrumskakel) en Scott Spedding (heelagter). Die Blitsbok Robert Ebersohn is op senter ingesluit.

Die toer dien as voorbereiding vir Kanada se deelname aan die vierhoekige Rugbywêreldbeker-heruitdun teen Duitsland, Hongkong en Afrika se naaswenner, wat in November in Marseille, Frankryk, plaasvind.

♦ Intussen is onsekerheid oor die topgekeurde span van die Oostelike Afdeling van die Kanadese Rugbykampioenskap (CRC) uitgeklaar.

Ná die Ontario Blues se sege van 22-9 in sy weeromwedstryd teen Quebec-Atlantic Rock is in die media aanvaar dat Ontario op grond van ʼn beter totale puntetelling (44-43) die beste span in die afdeling is.

Rugby Kanada het dit sedertdien ontken en gesê The Rock se beter bonuspunttelling plaas hom boaan die lys.

Laasgenoemde sal dus in die een halfeindstryd teen die Prairie Wolf Pack speel, terwyl Ontario die heersende kampioen, die Bears van Brits-Columbië, sal moet aandurf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.