Kanniedood-Bobbies gaan angel in klub help sit

jhb-bobbies-logo-300x248Verskeie kanniedoodlede van Johannesburg Polisie gaan aanstaande jaar hand bysit om angel in die klub se spanne te sit.

Gerhard Swart en Eddie Matheze sal steeds die eerste span brei, maar onder toe sal `n klompie manne wat in murg en been Bobbies is die afrigtingspan versterk.

Die eerste span kry ook `n nuwe spanbestuurder in die persoon van die klubbestuurder, Jason du Toit.

James Swann en Mike Labuschagne sal die tweede span slyp. Swann was baie jare lid van die klub en het twee seisoene lank by Diggers afgerig. Labuschagne het Alberton verlede jaar afgerig en was deel van die Goue Leeus-amateurs se afrigting span.

Nog twee jarelange staatmakerlede van die klub, Rudy Nell en Chris Muller, gaan nie net die derde span afrig nie, maar sal na alle waarskynlikheid steeds vir die span uitdraf.

Louis (Skoen) Snyman het ná 11 seisoene by die klub sy stewels opgehang en sal die onderouderdomspanne saam met Francois and Morné Botha afrig.

Charles Kukkuk sal weer die suksesvolle sewesspan afrig, en waar nodig met die tweede en derde span help.

Talle nuwe spelers

Al die Bobbies-spanne sal aanstaande seisoen by Springs se rugbydag in aksie wees en die oefeninge begin 10 Januarie. Die res van die vriendskaplike wedstryde sal binnekort aangekondig word.

Swart, die hoofafrigter, sê talle nuwe spelers het aangedui dat hulle aanstaande seisoen by die Bobbies sal aansluit.

Belangstellendes kan Du Toit by 082 850 1344 of Swart by 083 327 2746 bel vir nadere inligting.

Martin (Sous) de Souza het vanjaar twaalf drieë in `n baie sterk Piratesliga gedruk, en is as die Bobbies se speler van die jaar bekroon.

Sipo Mohlahla het drie toekennings ontvang. Naas die waardevolste speler was hy ook die sewesspeler van die jaar en die spelers se speler van die jaar.

Beste vordering

Zuko Ngijim was die eerstespanspeler wat die beste gevorder het, en Anthony Kapp het die grootste toewyding getoon.

Aldean Viljoen en Manny Goncalves het die toekenning as speler van die jaar in die tweede span gedeel, en Jacques Rossouw het die meeste vordering getoon.

Wat die derde span betref, was Anton Visser die speler van die jaar, en Rickus Terblanche was die oumanspeler van die jaar.

Tussen die juniors was David Lourens die beste en het Bronwen Abrahams die meeste vordering getoon.

Vyf spelers en twee beamptes was vanjaar by die Goue Leeus se amateurspanne betrokke: Gerhard Swart (afrigter), Thania van der Lith (fisioterapeut), Dwayne Korff, De Sousa, Kapp, Mohlahla en Sammy Makhabu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.