Kapenaars wen sewes in Dallas; verstom Yanks

Ricky Duartee, die speler van die toernooi saam met Ryno Combrinck, Jan Boot, Willem Strauss en Bobby Joubert. (Foto: Verskaf)

ʼn Kaapse sewesspan het pas die tweede Dallas-sewestoernooi gewen, en die gehalte van die Suid-Afrikaanse spanne het die Amerikaners verstom.

Die Western Cape Warriors, ʼn span saamgestel uit spelers van die Paul Roos-gimnasium en die Hoërskool Stellenberg, en afgerig deur die Westelike Provinsie se senior sewesafrigter, Bobby Joubert, het die o.19-toernooi gewen.

Hy het die Zulus, met spelers van die kolleges Michaelhouse en Kearsney, en afgerig deur die gewese Blou Bul, Ryno Combrinck, met 38-7 in die Bekereindstryd geklop.

Rick Marshall van die Houston-elitesewes het ná die byeenkoms in ʼn e-pos aan die toernooipromoter, Willem Strauss, opgemerk dat die Suid-Afrikaners se gehalte en spelpeil ʼn openbaring vir die Amerikaanse spelers was, en as dit nie vir dié toernooi was nie, die meeste van hulle waarskynlik nie op daardie vlak sou kon meeding nie.

Braidy Erlich teken sy beurskontrak met ʼn verteenwoordiger van die Davenport-universiteit, terwyl ʼn spanmaat en die afrigter Ryno Combrink bystaan. (Foto: Verskaf)

Volgens Strauss het die SA spanne uitstekende sewesrugby gespeel. Al die SA spanne het na die Bekeruitspeelwedstryde deurgedring. Oryx, SA All Stars en die Rhinos was die ander SA spanne.

SA All Stars het verlede jaar met die louere weggestap.

Talle talentwerwers van Amerikaanse universiteite het die toernooi bygewoon, en Braidy Erlich van die Zulus het daar en dan ʼn beurs van die Davenport-universiteit ontvang.

Ricky Duartee van die Warriors is as die speler van die toernooi aangewys. Hy is tans deel van die Leeus se o.19-Curriebekergroep.

Strauss sê die toernooi beloof om aanstaande jaar selfs groter en beter te wees.

“Twaalf SA spanne sal in aksie wees, en daar sal vir die eerste keer ook spanne uit Argentinië en Nieu-Seeland deelneem.

Die Wêreldbeker-sewestoernooi vind aanstaande jaar van 20-22 Julie in San Francisco, Kalifornië, plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.