Kapteinskap kan ’n meulsteen om die nek word

John Smit. Argieffoto.

Die oud-Springbok-losskakel Joel Stransky het altyd gesê ʼn mens kies eerste jou kaptein en dan die span, maar ander kenners was van mening dat jy eers die span kies en dan die kaptein daaruit aanwys.

Dit was jare gelede, nog voordat ’n afrigter sy kaptein aangewys het en dan deur dik en dun by hom gestaan het.

Die All Blacks het nou ook by daardie kruispad gekom, deur die 28-jarige Sam Cane as hul nuwe kaptein aan te wys in die plek van Kieran Read, wat uitgetree het.

Cane, wat reeds in 63 toetse gespeel het, was vyf jaar gelede in een of twee toetse ook die kaptein, maar hy het my nog nooit as kaptein van die Chiefs in die Superreeks oortuig nie.

Hy was ook nie altyd die eerstekeuse-oopkantflank (nr. 7) nie, maar nou moet jy hom kies, tensy jy soos Rassie Erasmus maak en jou kaptein in baie toetse teen die einde vervang.

Verlede jaar in die halfeindstryd van die Wêreldbekertoernooi teen Engeland in Japan, is Scott Barrett byvoorbeeld bo Cane ingespan.

Die volgende vraag: Wat gaan die All Blacks met Ardie Savea doen, wat só invloedryk in Cane se plek was terwyl hy lank op die kantlyn was met ʼn ernstige nekbesering dat hy as een van Wêreldrugby se Spelers van die Jaar aangewys is?

Kapteinskap kan baie maklik ’n meulsteen om enige span se nek word, soos reeds baie kere met Springbokspanne gebeur het.

Dink maar terug aan John Smit, wat Jake White en Peter de Villiers se voorkeurkeuse as kaptein was, maar was hy die beste haker?

Wat van die keuse van Basie Viviers in die toerspan in 1956 na Australië en Nieu-Seeland, met die twee voorkeurkandidate, Salty du Rand en Jan Pickard, wat albei oor die hoof gesien is toe hulle tydens die finale proewe in die Athlone-hotel in Kaapstad baklei het.

Hoekom was Theo Pienaar in 1921 die toerkaptein teen die All Blacks, maar het hy nie in een toets gespeel nie en was Boy Morkel die kaptein?

Hoekom was Bennie Osler, wat die Bokke in 1931-’32 na Grand Slam-glorie gelei het, oor die hoof gesien as toerkaptein vir die toer in 1933 na Australië, maar was hy steeds in die tweede toets die kaptein?

Hoekom was Abie Malan in die eerste en vierde toetse in 1963 teen die Wallabies die kaptein, met Avril Malan kaptein in die tweede en derde toetse?

Hoekom was Doug Hopwood se keuse as kaptein vir die Bokke se kort toer in 1964 na Ierland en Skotland geveto en het Avril Malan die regmerkie bo hom gekry?

Hoekom was Wynand Claassen in 1981 as toerkaptein in 1981 na Nieu-Seeland aangewys, maar is hy nie vir die eerste toets gekies nie?

Hoe kon Nick Mallett daarmee weggekom het deur Gary Teichmann as speler en kaptein te pos en hom met Bob Skinstad (as speler) te vervang met Joost van der Westhuizen as Bokkaptein?

Dis sulke dinge, en nie net die Covid-19-pandemie nie,wat die ondersteuners laat wakker lê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Die Wolf ·

Eenvoudig. Gary het nie sy mond vir die bombastiese Mallet gehou nie.

Johan ·

Die Ierland-Skotland toer was in 1965 en in 1933 het die Wallabies in SA getoer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.