Kapteinskap was op Avril Malan se voorkop geskryf

Ter illustrasie. Argieffoto.

ʼn Goeie rugbykaptein word met leierseienskappe gebore; jy gaan sukkel om dit vir hom aan te leer.

Die Worcester Warriors-rugbyspan in Engeland het nou die 21-jarige flank Ted Hill aangewys om die leisels by die Suid-Afrikaner CJ van Velze te neem. Hill word dus die jongste kaptein in 16 jaar in die Engelse Premierliga.

Is dit ʼn waagstuk, gaan daar te veel hooi op sy vurk wees, sal sy eie spelpeil daaronder ly?

Kapteinskap het oor die jare heen ʼn metamorfose ondergaan. Waar ʼn kaptein jare gelede eintlik maar net die leier op die veld was, is hy nou die toonbeeld en spreekbuis van die span.

Hy is in die voorste loopgraaf, bly in die kollig, moet pa staan vir die vertonings van die span, wen of verloor. Hy moet sy afrigter se spelpatroon verdedig, hy moet al die clichés van rugby op die punte van sy vingers ken.

Suid-Afrika het sedert 1891 63 rugbykapteins gehad, met Avril Malan wat op 23 jaar en 126 dae steeds die jongste kaptein is nadat hy in die derde toets teen die All Blacks die mantel in Bloemfontein begin dra het.

Voor Malan was Alf Richards in 1891 die jongste Suid-Afrikaanse kaptein, maar nadat Malan vir Roy Dryburgh vervang het, was hy 139 dae jonger as Richards.

Malan, wat op 16 jaar gematrikuleer het, se paaie het by die Universiteit Stellenbosch met dié van dr. Danie Craven gekruis en van toe af was sy paadjie uitgestippel.

Malan is ná die toetsreeks ook as kaptein van die Springboktoerspan in 1960-’61 na Brittanje en Frankryk aangewys.

Dit was een van die suksesvolste Springboktoerspanne nog, want hulle het 31 van hul 34 wedstryde op toer gewen, wat ʼn Grand Slam teen die vier Britse Tuisunies ingesluit het.

Die span se enigste nederlaag was naby aan die einde van die toer toe die Barbarians hulle met 6 – 0 geklop het.

Ek het Malan nooit sien speel nie, maar net met hom te doen gekry as afrigter van die destydse Transvaalspan en keurder.

ʼn Diep denker, ware jintelman, gesinsman, diep gelowig, ʼn kenner van die spel wat altyd tyd vir jou ingeruim het.

Maar boeta, jy moes jou huiswerk gedoen het en geweet het waarvan jy praat wanneer jy hom uitgevra het oor die spel, anders sou hy kringe om jou gehardloop het ­– soos dit ʼn ware kaptein betaam.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.