Katjiestewelse se kaperjolle alte ‘kommin’

Fourie du Preez se wendrie teen Walllis met `n blou en `n oranje stewel. (Foto bbc.co.uk).jpg

Fourie du Preez se wendrie teen Walllis met `n blou en `n oranje stewel. (Foto bbc.co.uk).jpg

`n Mens wonder soms oor rugby se Katjiestewelse se kaperjolle met hul bonte skoeisel wat by die dag meer aan `n Smartie-dosie op die veld herinner.

Dit lyk darem maar alte “kommin” – ja, die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls erken dit as omgangsafrikaans – en dis in skrille kontras met die netjiese prentjie wat die All Blacks, minstens tot Saterdag nog die wêreldkampioen, se eenvormige swart stewels skep.

Die Nieu-Seelanders se 23 pare swart stewels spel dissipline en eendragtigheid.

Tussen die ouer garde sal daar wel ook diegene wees wat die manlikheid van die dra van gekleurde stewels in twyfel trek.

Hulle vertel hoeka van `n Blou Bulstut wat verseg het om `n paar blou stewels te dra en sy bes gedoen het om die gewraakte skoeisel met skoenwaks swart te poets.

Dis waar dat borge `n groot sê in dié soort sake het, maar dis nie so seker of maatskappye hulle nie met hierdie soort verregaandhede letterlik in die voet skiet nie.

Vergewe maar, maar dit kan voorts met reg gevra word hoe ernstig `n speler ingestel is wat met `n blou stewel aan die een voet en `n gele aan die ander op die veld draf.

Is onpaar skoene nie aldeur maar `n bron van bespotting nie? Probeer die manne snaaks wees of waarom trek hulle dit aan? Hoeveel gesag dwing `n speler met sulke skoene by `n teenstander af?

Dit sal gek wees om – soos die Engelse met hul oorfone – die skuld vir swak vertonings aan die bonte stewels te wil wyt, maar `n span lyk darem net soveel netjieser, ja, meer professioneel, in eenvormige drag.

Jare gelede het provinsiale rugbyspelers die truie wat die bonde verskaf het gedra, maar elkeen het in die kouse van sy klub gespeel. Dit het só slordig vertoon dat die bonde genoop is om insgelyks eenvormige kouse te verskaf.

Nou laat die mengelmoes van stewels party spanne weer afsteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius van Niekerk ·

O, en ek het gedog die ouens raak deurmekaar in die kleedkamer, en trek mekaar se toks aan……..

Allan ·

Piet Rubriek. Klink my jy is van die Gysie Pienaar en Mannetjies Roux era. Spelers word nie gekenmerk aan die kleur van hul tokse nie en nog minder het dit n invloed op hul spel. Groei saam met die sport en hou op vaskyk teen die klein dingetjies. Glo nie enige rugby spel sal jou goedkeure wegdra binnekort nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.