Keer daai skaduwee, hy’t die bal!

Op Ellispark sal jy darem meer as net die skaduwee kan duik! (Foto Tripadvisor.com)

Dit gebeur deesdae al hoe minder dat rugbywedstryde in Europa weens die ongure weerstoestande afgelas word.

Leicester en Racing92 se kragmeting in die Europese Kampioenebekerreeks is Sondag op Welford Road in Leicester in sneeuvlokkies beslis, op Thomond Park  in Limerick is daar drie uur lank geswoeg en gevee om die reëndeurdrenkte speeloppervlak vir die wedstryd tussen Munster en Castres speelbaar te maak en in Devon moes die sneeu van die sintetiese oppervlak af na die kantlyne gevee word sodat die Glasgow Warriors die Exeter Chiefs kon pak.

Maar steeds het die toeskouers in hul duisendtalle na dié wedstryde gestroom, want as jy nie ʼn tuin het om in te werk nie, nie ʼn kar het om te was nie en nie ʼn swembad het om skoon te maak nie, wat anders doen jy oor naweke?

Dit laat ʼn mens terugdink aan die heerlike verhaal van die eerste rugbywedstryde wat onder spreiligte, en in die sneeu, gespeel is.

Volgens die rugbyboek Firsts, Lasts & Onlys: Rugby: A Truly Wonderful Collection of Rugby Trivia: Die eerste rugbywedstryd onder spreiligte is op 21 Oktober 1878 in Broughton, Lancashire, tussen die spanne van mnr. AT Bowman en mnr. W Longshaw beslis. Dit moes eintlik ʼn wedstryd tussen Broughton Rangers en Swinton gewees het, maar die twee kapteins, Bowman en Longshaw, het ʼn hele paar gasspelers ingesluit – en só het die spanne onder hul vaandel uitgedraf. Dink net daaraan as mnr. W Whiteley se span teen mnr. E Etzebeth se span speel!

Daar was ondanks die gure weer glo tussen 8 000 en 10 000 toeskouers in Broughton se Yewstraat-stadion.

Die eerste aandwedstryd in Skotland is op 24 Februarie 1879 tussen Hawick en Melrose beslis. Dit het ʼn dag voor die wedstryd kwaai gesneeu en die wedstryd was in die gedrang.

Maar nadat die ingenieurs die middag voor die wedstryd twee pale van sowat 10 meter hoog met ligte daarop ingeplant het wat kersligkrag van 3 200 verskaf het, is daar besluit om voort te gaan.

Die organiseerders het weens die weer nie baie toeskouers verwag nie en net een omie is by ʼn kombuistafel met ’n lampie daarop, met net een geldbakkie, buite die hoofhek geplaas.

Die hekgeld het slegs 63 pond opgelewer, maar daar was meer as 5 000 toeskouers waarvan die meeste nie betaal het nie.

Hulle het boonop langs en op veld gestaan het en die ligte versper.

Die spelers kon glad nie sien nie, het in mekaar vasgehardloop en skaduwees  gejaag en geduik.

Die organiseerders het boonop direk ná die wedstryd die ligte uitgedoof en toe was daar absolute chaos …  in die donker en sneeu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MH ·

Dit gebeur soms dat ‘n verkeerde uitdrukking of woord so algemeen gebruik word dat dit uiteindelik aanvaar word naas die korrekte woord. Ek het onlangs gelees dat die (foutiewe) term “ongure weer” ook nou aanvaarbaar is naas die korrekte term “gure weer”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.