Kenia se gewese Grensafrigter begin goed

Kenia het sy verpligtinge vanjaar Saterdag goed afgeskop onder die leiding van sy nuwe afrigter, ʼn man wat die Suid-Afrikaanse bond Grens by geleentheid afgerig het.

Die Simbas het Uganda in Kampala oortuigend met 34-16 in hul wegwedstryd in die reeks om die Elgonbeker geklop, en op die koop toe met twee plekke van 30ste tot 28ste op die wêreldranglys gevorder.

Die Nieu-Seelander Ian Smook, wat Grens in 1996 en 1997 gebrei het, het die afrigting vroeër vanjaar by die Suid-Afrikaner Jerome Paarwater oorgeneem.

Die weeromwedstryd sal deel vorm van Rugby Afrika se Goue Beker-reeks, wat ook die Afrikadeelnemer aan aanstaande jaar se wêreldbekertoernooi in Japan sal bepaal.

Uganda het die reeks verlede jaar gewen, nadat Kenia dit elke jaar sedert 2007 ingepalm het.

Die Elgonbeker is vernoem na ʼn bergspits op die grens tussen die twee lande.

Die eerste kragmetings tussen Uganda en Kenia was nie-amptelik, en ʼn interessante staaltjie word van die heel eerste botsing in die vroeë jare dertig van die vorige eeu in Entebbe vertel.

Albei spanne het glo met wit truie opgedaag en niks anders was beskikbaar nie. Kragtens die gebruik dat die tuisspan in geval van ʼn kleurebotsing truie ruil, het die Ugandese daar en dan langs die kantlyn hul truie in ʼn emmer water met die noodhulpkissie se jodium rooi gekleur. Die truie is net so nat aangetrek. Die kleursel het noodwendig aan die Keniaanse truie afgegee, en kort voor lank was die spanne in elk geval onuitkenbaar.

Dis onbekend wie gewen het.

Terloops, “simba” is die Swahili-woord vir leeu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.