Kierankies braai in rugby

Die Sesnasies-rugbybase wil seker maak dat hulle die regte riglyne volg, maar as ʼn mens na die beeldmateriaal van Saterdag se kragmeting tussen die Franse en Iere kyk, lyk dit beslis of die Franse oneerlik was en die reëls gebuig het in ʼn poging om die Iere te klop.

Ja mense, dieselfde Franse aan wie die Wêreldbekerbod van 2023 verlede jaar toegeken is. Bygesê, hoeveel WB-toernooi in rugby en sokker en Olimpiese Winter- en Somerspele is al aan lande met geraamtes in hul kaste toegeken?

In Saterdag se wedstryd in die Stade de France het eers die losskakel  Matthieu Jalibut (30ste minuut) ʼn beenbesering opgedoen en heel later in die 76ste minuut ook plaasvervanger-skrumskakel, Antoine Dupont. Albei moes volgens die spandokter harsingskuddingstoetse ondergaan.

In Dupont se geval kon die opdrafskrumskakel  Maxime Machenaud dus in die laaste vier minute weer opgestuur word.

Terloops, verlede jaar was Frankryk by ʼn soortgelyke geval betrokke toe die Walliese afrigter Rob Howley die Franse daarvan beskuldig het dat hulle teen die einde ʼn “onwettige” plaasvervanging van ʼn voorryman gebruik het.

♦  Dit laat ʼn mens onwillekeurig terugdink aan een van die grootste rugbyskandale, in 2009 se kwarteindstryd van die ou Heinekenbeker-reeks tussen Harlequins en Leinster op The Stoop in Londen.

Leinster het met 6-5 gewen, maar nie voordat  Harlequins se vleuel Tom Williams ʼn “lipbesering” opgedoen het nie. As Williams weens ʼn bloedbesering vervang sou word, kon die betroubare stelskopper Nick Evans, wat kort ná rustyd weens ʼn beenbesering vervang is,  weer opgestuur word.

Williams het (vasgevang op kamera), ʼn bloedkapsule uit een van sy kouse gehaal, maar dit op die grond geval. Hy het dit opgetel en toe daarop gebyt.

Hy is met ʼn “bloeiende mond”  afgehaal, maar hy en die spandokter, Wendy Chapman, het paniekerig geraak en hy het, volgens sy getuienis tydens sy tugverhoor, by Chapman gepleit om sy lip oop te sny, wat sy gedoen het.

Dit het vier maande geneem om die tugverhore af te handel. Dean Richards, Quins se rugbydirekteur, is vir drie jaar geskors, Williams vir 12 maande (dis later tot vier maande verminder), die fisioterapeut Steph Brennan vir twee jaar en Chapman is deur die Britse Mediese Raad geskors. Dit is later tersyde gestel en sy kon weer praktiseer.

Harlequins is met byna R4 miljoen beboet, Richards het bedank,  want die klub het dit by vier ander geleenthede ook gedoen en aanvanklik daarmee weggekom.

Die Walliese skeidsregter Nigel Owens, het toevallig die fluitjie in albei wedstryde (Frankryk teen Ierland en Harlequins teen Leinster) hanteer, maar hy het geen ander keuse gehad as om die mediese personeel  te glo nie.

♦  Ook het Evans met ʼn skepdoel in die 79ste minuut misluk en het Leinster voortgegaan om die reeks te wen … kierankies braai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.