Kies jy jou toerkaptein, of pos jy hom?

Sam Warburton – die toerkaptein is bereid om vir die toets terug te staan. (Foto: walesonline.co.uk)

Dit sit nie in elke speler of kaptein se broek om terug te staan as kaptein nie, veral nie wanneer jy deur Nieu-Seeland toer nie.

Maar die ander kant is net so waar: jy pos nie jou toerkaptein nie, veral nie wanneer jy deur Nieu-Seeland toer nie.

Die Britse en Ierse Leeus se toerkaptein, Sam Warburton, het Maandag die eerbare ding gedoen deur aan te dui dat hy bereid is om terug te staan as kaptein vir die eerste toets teen die All Blacks omdat hy nog nie slaggereed is ná sy enkelbesering nie.

Die toets vind eers oor 11 dae plaas, maar Warburton stel die span eerste, want hy besef dat hy ʼn meulsteun om die afrigter, Warren Gatland, en die toerkeurders se nekke kan wees wanneer die span gekies moet word.

Nou kan daar geen sprake van verdeeldheid wees nie en geen tweespalt in die kamp nie.

Warburton het in die eerste toerwedstryd, teen die Nieu-Seelandse provinsiale Barbarians, gespeel. Hy het ook Dinsdagoggend voor gedraf teen die Highlanders, maar hy besef dat sy spelpeil nog nie aanvaarbaar is vir die hoë tempo van toetsrugby teen die All Blacks op Edenpark nie.

Aan die ander kant kan jy jou vingers verbrand deur nie jou toerkaptein te kies nie.

Die Bokke het in 1937 en weer in 1981 dié blapse begaan deur nie die toerkaptein, onderskeidelik Philip Nel en Wynand Claassen, vir die eerste toetse teen die All Blacks te kies nie. Die Bokke het albei toetse verloor, in 1937 met 7-13 en in 1981 met 9-14.

Nel en Claassen is albei herroep vir die tweede toetse. Die Bokke het in 1937 met 13-6 gewen en voortgegaan om die reeks met 2-1 te beklink toe hulle die All Blacks met 17-6 in die laaste toets in Auckland geklop het.

Ironies het Danie Craven agtsteman in die eerste toets gespeel, maar is hy teruggeskuif skrumskakel toe. Die Bokke, wat die skrumformasie van 3-4-1 vervolmaak het, het die All Blacks poegaai geskrum, met drie ysters, Boy en Fanie Louw (albei stutte) en die haker Jan Lotz om die skrum te anker.

Die All Blacks was platgeslaan en het op hul volgende toer in 1949 na Suid-Afrika vir Dok Craven gekoöpteer om die geheime van die 3-4-1-formasie met hulle te deel  (allblacks.com –  The history of the scrum).

Van toe af was daar net een pad vir die All Blacks – vorentoe.

In 1981 het Rob Louw in die eerste toets in Claassen se plek agtsteman gespeel, maar hy is teruggeskuif na sy beste posisie as oopkantflank vir die oorblywende twee toetse.

Die Bokke het die tweede in Wellington met 24-12 gewen en as die Walliese skeidsregter Clive Norling nie die Bokke in die derde toets geboor het nie, sou hulle straks nie met 22-25 in Auckland  verloor het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.