Kies Whiteley as Bok-kaptein

Warren Whiteley (Foto: skysports1.co.uk)

Warren Whiteley (Foto: skysports1.co.uk)

Daar wag `n taai tameletjie op die afrigter wat van aanstaande jaar af die leisels as Springbokafrigter neem.

Heyneke Meyer se kontrak verval aan die einde van die Wêreldbeker-toernooi en geen besluit is nog oor sy toekoms geneem nie. As ek reg tussen die lyne, en die tendense in SA rugby lees, sal `n nuwe afrigter aangestel word al wen die Bokke ook die toernooi.

Dink maar terug na Jake White aan die einde van 2007 (die Bokke was immers Wêreldbeker-kampioene) en  Peter de Villiers in 2011, wie se Bokke deur die Wallabies (en die Nieu-Seelandse blaser Bryce Lawrence) geboor is. White het wel sy eie graf gegrawe toe sy outobiografie verskyn het (waarin hy sy eie werkgewer gekap het) voordat die nuwe aanstelling gedoen is en Snorre … nou ja.

Een van die nuwe afrigter (al kry Meyer weer die jawoord) se take is om `n nuwe Bokkaptein te kies. Jean de ViLliers maak klaar, Victor Matfield ook, Duane Vermeulen is op pad Toulon toe, Schalk  Burger speel in Japan en Pierre Spies is op pad Japan toe voordat hy ook na Frankryk verhuis.

Wie bly oor? Warren Whiteley! Kies hom sommer ook as onderkaptein vir die Wêreldbekerspan.

Kom ons wees eerlik: Dié kaptein van die Lions hoort in die Wêreldbekergroep, veral noudat daar onweerswolke oor Vermeulen se nekspasmas begin saampak. In my boekie is Whiteley beter as Willem Alberts (wat ook Frankryk toe gaan) en Nazeem Carr, wat baie min speelkans vir die Stormers gekry het.

Ek het vroeër `n lansie vir Vermeulen gebreek toe daar onsekerheid oor De Villiers se beskikbaarheid was, maar ek glo hy het die deur toegemaak deur sy pensioen in Frankryk te gaan aanvul.

Kyk, dis enige speler se volle reg om dit te doen, veral omdat hy nie vir die Bokke verlore is nie. Maar die lojale manne wat agterbly, moet darem voorkeur kry. Dis Saru se beleid, al pas hulle dit nie toe nie.

Whiteley is net 27 jaar oud, passievol, baie vaardig en hy is vlot tweetalig (dit maak dit net soveel makliker vir al die klakouse).

Sommige kenners meen hy pas nie in Meyer se spelpatroon in nie, maar dis bog, want gaan kyk maar wie het die meeste têkkels in die Superreeks gemaak. Het hy al ooit lyf weggesteek? Is hy al ooit oorskadu  … nie net deur SA spelers nie, maar ook deur Kieran Reid, Wycliff Palu en die ander ysters van wêreldrugby?

Whiteley, wat in Durban gebore is en by die Afrikaanse Dirkie Uys Laerskool en Glenwood Boys High skoolgegaan het, het sy loopbaan by die Sharks begin (13 wedstryde). Daarna het hy `n draai in die Baai gemaak (vyf wedstryde) voordat hy vir die Lions (54 Superwedstryde en 58 wedstryde vir die Curriebeker en ander spanne) gespeel het.

Dit gaan `n nagmerrie vir die Bokafrigter wees om vanaf volgende jaar af te rig. Die oorgrote meerderheid van sy spelers gaan oorsee speel en nie altyd nie, of net `n week voor `n toets, beskikbaar wees. Dit werk dalk in sokker, maar in rugby? Aikona.

Dis hoekom daar sou gou as moontlik in Whiteley se rigting gekyk moet word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan p ·

Warren Whitelry is n moet maar ongelukkig speel en verdedig hy te goed vir Heynecke Meyer. Wat nie sulke spel en leierskap waardeer nie. Warren is tops!!

Peter L ·

Ek stem met jul berig saam, asook met Johan p. Warren is ‘n ware leier, nederig wanner hy met mense praat, maar ‘n yster wie vir niemand terugstaanbop die veld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.