Kiewiete ʼn treetjie nader aan Wêreldbeker 2019

DTH van der Merwe – `n drie. (Foto: Ian Muir/Rugby Canada)

Die Kiewiete van Uruguay is ʼn treetjie nader aan 2019 se toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) in Japan.

Uruguay het Saterdag in Vancouver die eerste uitspeelwedstryd teen Kanada met 38-29 gewen, en laasgenoemde sal die weeromstryd eerskomende Saterdag in Montevideo met minstens tien punte moet wen as hy by hierdie (sy tweede) geleentheid sy kleim wil afsteek.

Saterdag se wedstryd was ook die eerste in vanjaar se reeks om die Amerikas-rugbykampioenskap (ARK), waaraan Amerika, ʼn Argentynse vyftiental, Chili en Brasilië die ander deelnemers is.

Kanada het aanvanklik die spel oorheers, en ʼn drie deur die vleuel DTH van der Merwe, wat op Worcester in die Boland gebore is, het die tuisspan met 17-7 laat voorloop.

Dit was Van der Merwe se 48ste toets vir Kanada en sy 29ste toetsdrie.

Die Kiewiete het egter teruggeveg om gaandeweg die oorhand te kry, en reeds teen rustyd met 21-17 voor te loop.

Kanada het reeds agt keer aan die RWB-toernooi deelgeneem en in 1991 met 13-29 in die kwarteindstryd teen die All Blacks verloor. Laasgenoemde span het sulke beroemde spelers soos Al Charron (slot en losvoorspeler) en Gareth Rees (losskakel) asook die latere Springbok Christian Stewart (senter) ingesluit.

Uruguay was nog net drie keer by die RWB-toernooi betrokke en kon tot dusver slegs twee wedstryde, teen Spanje (1999) en teen Georgië (2003), wen.

Die wiel het egter gedraai, en Kanadese rugby het die afgelope tyd wesenlik agteruitgegaan. Hy moet nou ook vir Amerika terugstaan, wat hom reeds in die Noord-Amerikaanse RWB-uitspeelstryd uitgeskakel het.

Amerika is tans 17de op die wêreldranglys, Uruguay 18de en Kanada 21ste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

As Kanada uitval dink ek dit sal die heel eerste wêreldbeker toernooi wees waaraan hulle nie deelneem nie. Hulle het selfs eenkeer in die kwarteindronde gespeel, wat min lande nog kon vermag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.