`n Bra kille ontvangs het die twee bekroonde Goue Beker-spelers wat kragtens `n uitruilooreenkoms vir ses maande lank vir Selkirk gaan speel in Skotland te beurt geval.
Tythan Adams (vleuel van College Rovers, KwaZulu-Natal) en Ian Oosthuizen (haker van Brakpan, Valke) sou Vrydag reeds vir hul gasheerklub teen Hawick uitdraf, maar die wedstryd is afgestel omdat die veld toegeys was.
Adams is as die beste agterspeler van die oop klubs se afgelope internasionale reeks om die Goue Beker aangewys en Oosthuizen as die beste voorspeler.
Die uitruilooreenkoms is daarop gemik om Suid-Afrika se beste klubspelers die kans van `n leeftyd te gee om oorsee rugby te speel.
Jurie Roux, die hoof- uitvoerende beampte van die SA Rugbyunie (Saru) sê verlede jaar se speler van die reeks, Leon du Plessis van Rustenburg Impala, het uitgemunt tydens sy verblyf by Selkirk. Die jong speler van verlede jaar, Dashton Wellman van Wesbank, het `n kultusfiguur in Selkirk geword en sedertdien `n geldkontrak by `n Franse klub losgeslaan.
John Rutherford, `n gewese Britse en Ierse Leeu en die voorsitter van Selkirk, sê die Suid-Afrikaners wat die afgelope klompie jaar vir die klub gespeel het, was puik op en van die veld en hy is opgewonde oor die nuwelinge se koms.
Twee van die klub se ander Leeus, Jack Waters (1938) en Ronnie Cowan (1962), het die span op toer in Suid-Afrika verteenwoordig.
Die klub is tans sesde uit 12 spanne in die Skotse Eerste Liga nadat hy einde verlede seisoen sy plek in die Premierliga verloor het omdat hy laaste was. In die Grensliga is hy tweede uit die vier spanne in sy groep.
Selkirk is aanstaande jaar 110 jaar oud.