Kimberley Polisie trek sy uniform uit

kimberleyKimberley Polisie het sy uniform uitgetrek en `n nuwe baadjie aangetrek.

Victor Hughes, die superspan se bestuurder en die klub se woordvoerder, laat weet Polisie – wat geruime tyd al `n oop klub is – het sy naam na die DFA Kimberley-rugbyklub verander.

Die streek se byna 140 jaar oue legendariese dagblad, die Diamond Fields Advertiser (DFA) is die klub se nuwe naamborg en het ook die naamreg van die polisiestadion gekoop, wat voortaan as DFA-park bekend sal staan.

André Boshoff, Kimberley se sterk agtsteman, is as kaptein van die superpan gekies en Dawie Swanepoel, `n senter, is sy adjudant vir die 2016-seisoen. Albei die spelers het Griekwas op verskeie vlakke verteenwoordig.

Die span word weer deur Carlo Grebe afgerig en Jaco Erwee sal toesien dat die verdediging op peil bly. Hughes sal soos verlede jaar die superspan bestuur.

Pieter Streak, Spinnie van Aswegen en Winston du Plessis sal na die belange van die eerste span omsien.

Rudi Ferreira is as die rugbyhoof by Kimberley aangestel.

Sishen het verlede jaar reg teen die einde van die eindstryd `n drie gedruk om Polisie 16-12 in Griekwas se Superreeks te klop. Drie minute voor die eindfluitjie was Polisie nog 12-11 voor en was dit naelskraap of daar was vier Polisiespanne in vanjaar se nasionale reeks om die Goue Beker.

♦ Huges sê die stadion en veld word tans opgeknap en die speelopppervlakte is reeds in `n veel beter toestand as wat dit 12 maande gelede was. Die klub spog ook met `n nuwe kleedkamer, sodat albei sy spanne – die eerste span en die superspan – gehuisves word.

Kimberley het ook verskeie ander borgskappe hernu en nuwes bekom.

(Interessantheidshalwe kan gemeld word dat die DFA in 1878 op die sendingstasie Pniel, suid van Barkly-Wes, tot stand gekom het toe duisende delwers destyds op die gebied toegesak het. Die koerant het later na Dutoitspan verskuif en toe na New Rush, wat op die ou end Kimberley geword het. Die blad was toenterjare vir sy sterk anti-imperialistiese standpunt bekend en sy botsings met die mynmagnaat en aartsimperialis Cecil John Rhodes het opslae gemaak. Dis ietwat ironies dat Rhodes die baanbreker-rugbyborg in Suid-Afrika geword het, toe hy saam met Paul Kruger, die staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek, borg gestaan het vir die eerste Britse rugbytoer na Suid-Afrika in 1891. – Red.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.