Kings gebruik twee spanne in hul drie wedstryde

ep-kings-logoDis darem eintlik nie reg in hierdie dae van afgewaterde Curriebekerrugby dat die span vir wie niemand ʼn kans gun boonop drie wedstryde binne sewe dae moet speel nie.

Dis presies wat met die OP Kings gebeur wat Woensdagmiddag teen Griekwas in Kimberley speel nadat hulle verlede naweek 6-36 in Port Elizabeth teen die WP verloor het. Daar wag nou ʼn tweede wegwedstryd Saterdag teen die Vrystaat Cheetahs in Bloemfontein.

Die gevolg is dat die OP-afrigter, Barend Pieterse, op een posisie na die hele span wat teen die WP slae gekry het vir die Griekwas-kragmeting verander het.

Die drie-keer-binne-sewe-dae skedule is deels teweeggebring deur die vergunning van SA Rugby om die Lions uitstel te gee vir hulle eerste wedstryd, teen die OP. Ongelukkig vir die OP kon dit nie anders ingepas word as dat húlle nou te na gekom word nie.

Griekwas is natuurlik (amper) in dieselfde bootjie. Hulle het Saterdag vir die Pumas in Nelspruit geklop en speel komende Saterdag tuis teen die Boland. In hulle geval is daar dus darem twee wedstryde tuis, en dit teen twee van die drie kwalifiseerders Pumas en Boland.

ʼn Mens het begrip vir die OP se dilemma. Hulle min genoeg reserwekrag om beserings die hoof te bied en darem ʼn redelike sterk span in die reeks op die veld te stoot.

Pieterse sê hy het uit die staanspoor besef dat die beste span nie noodwendig in al drie wedstryde sou speel nie, maar dat dit ʼn geleentheid was om die hele groep kans te gee om op die vlak te speel. “Dit is ʼn geleentheid vir die spelers wat hulle debuut op die vlak maak om te wys wat in hulle steek,” het Pieterse se spankeuse verduidelik.

Met Griekwas én die Vrystaat wat vir die Kings wegwedstryde is, sou die reistyd net eenvoudig ook te veel tyd in beslag geneem het om deeglik voor te berei. Die ‘regte’ OP-span kon dus met dié besluit die hele week vir die Vrystaatwedstryd oefen – sonder die risiko van beserings en Donderdag se styfheid en skete na die Woensdagwedstryd.

Die afskoptyd is 17:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.