Kings: geen verskonings geld meer nie

Die Kings, met ʼn span wat weer kwaai geskommel is in die afrigter Deon Davids se volgehoue soeke na die beste spelers en kombinasies vir die Pro14-reeks, kom Saterdagaand (20:35 SA tyd) in Newport teen drie landgenote te staan.

Die Kings se wedstryd teen die Newport Gwent Dragons is vir albei spanne van die allergrootste belang.

Die Dragons het nog net een uit vier wedstryde in vanjaar se reeks gewen, en die Kings geen.

Die Kings moet nou eenvoudig vir ʼn volle wedstryd begin doen wat hulle tot dusver in elke wedstryd net hier en daar reggekry het.

Geen verskonings is meer aanvaarbaar nie. Ja, hulle is nuut in die reeks en ja, hulle is (was) ʼn saamgeflanste span. Die realiteit is egter dat hulle heelwat talent het en hul eie grootste vyand is.

Houding? Dit is volgens Davids een van die probleme. Die Kingsspelers se houding is nie reg nie, het hy ná die neerlaag verlede week teen Zebré gesê. En dít kan net deur die spelers self reggemaak word.

Die Kings speel teen drie Suid-Afrikaners. Carl Meyer, onbekend in Suid-Afrikaanse rugbykringe, het verlede jaar vir die Dragons begin speel. Groot (105 kg) en met baie vaardighede kan hierdie heelagter aan die Kings ʼn klompie vrae vra.

Daar is ook Sarel Pretorius, wat voorheen vir die Valke, Griekwas, die Vrystaat Cheetahs en die Cheetahs gespeel het en ook ʼn draai by die Waratahs se Superspan gemaak het. Met sy heelwat meer as 200 eersterangse wedstryde sal hy, selfs op 33, ʼn man wees wat die Kings moet dophou.

Brok Harris, stut van die WP (120 wedstryde), die Stormers (93) en die Dragons (79) is nog ʼn man wat ervaring kan inspan teen die deurmekaar span van die Kings.

Spanne –

Newport Gwent Dragons: 15 Carl Meyer, 14 Ashton Hewitt, 13 Tyler Morgan, 12 Jack Dixon, 11 Hallam Amos, 10 Gavin Henson, 9 Sarel Pretorius, 8 James Benjamin, 7 Ollie Griffiths, 6 James Thomas, 5 Cory Hill (kaptein), 4 Matthew Screech, 3 Leon Brown, 2 Elliot Dee, 1 Brok Harris. Bank: 16 Ellis Shipp, 17 Thomas Davies, 18 Lloyd Fairbrother, 19 Joe Davies, 20 Aaron Wainwright, 21 Dane Blacker, 22 Angus O’Brien, 23 Thretton Palamo.
Southern Kings: 15 Masixole Banda, 14 Yaw Penxe, 13 Jacques Nel, 12 Berton Klaasen, 11 Alshaun Bock, 10 Pieter-Steyn de Wet, 9 Godlen Masimla, 8 Dries van Schalkwyk, 7 Jurie van Vuuren, 6 Andisa Ntsila, 5 Bobby de Wee, 4 Stephan Greeff, 3 Martin Dreyer, 2 Michael Willemse (kaptein), 1 Schalk Ferreira. Bank: 16 Stephan Coetzee, 17 Rossouw de Klerk, 18 Etienne Swanepoel, 19 Giant Mtyanda, 20 Khaya Majola, 21 Rowan Gouws, 22 Oliver Zono, 23 Luzuko Vulindlu.

Skeidsregter: Andy Brace

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.