Kings klop Sharks en maak dit drie ná mekaar

Drie ná mekaar. En hierdie oorwinning teen die Sharks op die Kings se tuisveld in Port Elizabeth sou vir die Kings ongetwyfeld die soetste gewees het.

Die span van Lionel Cronje het nou met die Waratahs oorsee en die Rebels en die Sharks tuis afgereken. Die Durbaniete is met 35-32 geklop en het die eerste Suid-Afrikaanse span geword wat teen die Kings verloor het.

Die wedstryd het taamlik gelykop verloop, maar die tuisspan het sy kanse beter gebruik – en vier drieë teen twee vertel ʼn eie storie.

Terwyl daar in die Baai oor hierdie oorwinning gejubel word, is daar die slegte nuus dat die Sharks se kaptein Pat Lambie weer van die veld is. Wéér was dit harsingskudding wat ʼn einde aan sy wedstryd gemaak het.

Dit volg op sowat 13 weke wat hy verlede jaar nie kon speel ná hy deur CJ Stander in die toets teen Ierland geloop is  nie. Hy was ook vroeër in sy loopbaan ʼn paar weke met harsingskudding langs die kantlyn.

Die grootste verrassing was ongetwyfeld die manier waarop die Kings se skrum in die tweede helfte met die besoekers gemors het. Twee Springbokke, Beast Mtawarira en Coenie Oosthuizen, is ná ʼn paar vernederende skrums vervang.

Die telling het deurgaans taamlik wipplank gery met nie een van die spanne wat beheer op die telbord kon kry  nie.

Daar is miskien ʼn raps te veel geskop, maar die gelykop stryd en die tuisspan wat voor meer as 20 000 ondersteuners hulle deel gedoen het, het dit ʼn dag gemaak wat in die Baai onthou sal word.

Die wenpunte is kort voor die einde aangeteken toe Pieter-Steyn de Wet gaan druk het.

♦  Dis nooit te laat om ʼn droom te verwesenlik nie. Alshaun Bock, wat Dinsdag 35 word, het vanjaar die eerste keer Superrugby gespeel.

Hy het twee goeie drieë op  die vleuel gedruk, met sy werkverrigting indruk gemaak en was die uitstaande speler op die veld.

Hy het reeds in 2003 vir die SA o.21-span en die Blitsbokke gespeel en het van die een unie na die ander getrek sonder om werklik die wêreld aan die brand te speel.

Puntemakers –
Southern Kings (18) 35
: Drieë: Alshaun Bock 2, Lionel Cronjé, Pieter-Steyn de Wet. Doelskoppe: Cronjé 3. Strafdoele: Cronjé 2. Skepskop: Cronjé

Sharks (16) 32: Drieë: Daniel du Preez, Lwazi Mvovo. Doelskoppe: Pat Lambie, Garth April. Strafdoele: Lambie 2, April 4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico ·

Dink net watter span die Kings vandag kon gewees het as SARU al in 2010 vir die Kings gesê het hulle gaan in 2013 superrugby speel. Hulle sou 3 jaar gehad het om ‘n span bymekaar te kry en hoeverl van hul eie sterre sou dan nou nog steeds in die Baai gewees het nie. Ek haal my hoed vir hulle af want hulle kon met bietjie meer geluk fie Haaie ppk in Durban gewen het sowel as die 2 wedstryde wat hulle in Australië verloor het.

Henry ·

Jy moet eerder dink wat kon gewees het, indien die Watsons nie die politieke en geld septer geswaai het en die politiek benepe SARU eerder op die spel rugby ge-fokus het.

What a joke ! ·

He he ai sharks….passop julself is sommer volgende om uit die super reeks geskop te word!
Glo is die Vrystaters en die Kings in die moeilikheid …..selfs die bulle en haai ek moet ok se die stormers is ok maar useless…..eishhh hehe maar teen die Kings verloor,eisch wena eisch, net die Lions wat verdien om Suid Afrika te verteenwoordig in super rugby en selfs hul gaan weer pak kry teen die KIWIS!!!!!. Eischhhh danke abc en fikile en en en…………

Frans C ·

Dit is tog opmerklik dat van die spanne wat volgens die media gevaar loop om uit die SUPER 18 reeks geskop te word,hul spelpeil aansienlik verbeter het,terwyl van die voorste spanne me t talle grootnaamspelers en Springbokke maar taamlik poer-poer.

Dalk moet daar ook ‘n swaard oor hulle koppe hang en daarvan vooraf besin word oor die toekenning van uper 18 status,wat nou lyk dit, deur die 5 grotes as vanselfsprekend aanvaar word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.