Kings met sewe drieë teen twee deur Edinburgh gelooi

Dougie Fife ontduik die Kings se Berton Klaassen (Foto: Twitter@EdinburghRugby)

Twee drieë teen sewe, en nou tien wedstryde gespeel met almal wat verloor is.

Dit is die opsomming van Vrydagaand se Pro14-wedstryd in die Nelson Mandelabaai-stadion wat Edinburgh met 48-21 teen die Southern Kings gewen het.

Benewens ʼn spul foute op die verdediging, swak dissipline met onder andere twee spelers wat geelkaarte gekry het, en ʼn verkeerde opsomming van die opsies, lyk dit of die Kings nie behoorlik fiks is nie.

Dit is die soveelste keer wat hulle teruggeveg en gedreig het om ʼn wedstryd te wen  net om teen die einde boedel oor te gee en dit sal onregverdig wees om dit voor die deur van hulle benadering en wil om wen te lê.

Die Kings het mooi teruggeveg nadat hulle ná 19 minute reeds met 3-22 agter was. Hulle het twee keer gaan druk en Kurt Coleman het nog twee strafdoele behaal en was rustyd toe met 16-22 agter.

En toe, net toe dit wou lyk of hulle dalk, net dalk, uiteindelik sal kan vasbyt en vir ʼn verrassing sorg, raak die Kings se asem oënskynlik op. Dit was eers 40 minute later dat die besoekers na 59 minute se spel met ʼn drie deur Dougie Fife die gaping kon rek, en toe het Sam Hidalgo-Clyne drie keer binne vyf minute tussen die 72ste en 77ste minute gaan druk.

Op 48-16 was dit toe ʼn loesing, en die drie van Dries van Schalkwyk met die geloei van die sirene het weinig troos ná nóg ʼn mislukte poging gebring.

Puntemakers –

Southern Kings (16) 21: Drieë: Harlon Klaasen, Dries van Schalkwyk. Doelskop: Kurt Coleman. Strafdoele: Coleman 3.
Edinburgh (22) 48: Drieë: Fraser McKenzie, Viliame Mata, Grant Gilchrist, Dougie Fife, Sam Hidalgo-Clyne 3. Doelskoppe: Jaco van der Walt 2, Hidalgo-Clyne 3. Strafdoel: Van der Walt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakkalas ·

Na al hulle wedstryde teen nogal swak spanne bly die Kings onsuksesvol. Hoe kan die afrigter enigsins verbind word met moontlike pos by die Bokke? Dit moet ‘n grap wees of fopnuus van die jaar???

Erick Vogel ·

Indien hy as die Springbokke se afrigter deur Rassie aangestel word sal dit beslis ‘n kwota aanstelling wees en daardeur sal Rassie sy eie pos verseker.
Ek mors seker my eie tyd want my poste word deur sensuur nie geplaas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.