Kings mik na eerste sege, Cheetahs na uitspeelstryd

Dis Vrydagaand (19:35) ʼn stryd tussen die twee swakste spanne in die Pro14-reeks se groep B en ook die reeks as geheel in die Nelson Mandelabaai-stadion.

Dit is ook die Southern Kings se kans om darem vanjaar ʼn oorwinning te behaal na 16 opeenvolgende neerlae.

Die Dragons, wat die oud-Bok Zane Kirchner op heelagter gekies het en ook die Cheetahs en Griekwas se skrumskakel Sarel Pretorius en die voormalige senter van die Kings, Jarryd Sage, in hulle span ingesluit het, het nog net twee oorwinnings behaal.

Een daarvan was in die eerste ronde in Newport toe hulle met 29-13 teen die Kings gewen het.

♦  Saterdag (19:35) speel die Cheetahs tuis teen Connacht. Die Iere blaas in hul nekke en kan slegs met ʼn sege in hierdie wedstryd nog ʼn aanspraak op die derde plek in afdeling A en dus ʼn uitspeelwedstryd hê.

Die Cheetahs moet ook wen omdat hulle tans net ses punte voor die gevaarlike Cardiff Blues is.

Terwyl die Vrystaters oorsee nog net een uit agt kon wen, is hulle rekord tuis darem beter. Uit die sewe wat hulle in Bloemfontein gespeel het, het hulle ses gewen.

Swys Venter-hulle het net te dikwels wedstryde wat hulle oorsee op die punt was om te wen met swak dissipline en gebrekkige uitvoering verloor. Voor hulle tuisskare behoort hulle hierdie een darem te beklink voordat hulle oor drie weke vir oulaas oorsee moet gaan om teen die Dragons te speel.

ʼn Mens sê dit ook met inagneming van die paar beserings in die Cheetahs se span.

Luther Obi vervang vir Malcolm Jaer op vleuel met Rabs Mazwano wat op die bank inskuif.

Op skrumskakel is Shaun Venter weens ʼn besering nie beskikbaar nie en sal Zee Mkhabela  in sy plek opdraf. Tian Meyer is ook weer fiks en sal seker speelkans kry ná sy goeie begin die seisoen.

Ox Nché en Aranos Coetzee sal as stutte begin met Charles Marais en Tom Botha wat bank toe skuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.