Kings-raadslid braak gal oor Mallett

Dinge lyk weer minder vreedsaam by die Southern Kings. Foto: Facebook.

Die onweerswolke pak al weer saam rondom rugby in die Oos-Kaap. Die Southern Kings is tans breierloos nadat sy pad vroeër vandeesmaand met dié van Deon Davids geskei het.

Die span speel vir die afgelope twee seisoene in die Guinness Pro14-liga en kon tot op hede nog net drie van hulle 42 kragmetings in dié kompetisie wen.

Die vakante pos van hoofafrigter is intussen geadverteer en die oud-Springbokafrigter, Nick Mallett, is deur die Kings nadergetrek om met die aanstellingsproses te help.

Maar in die jongste verwikkeling het een van die unie se raadslede, Bantwini Matika, sy mond behoorlik op sosiale media oor Mallett se betrokkenheid uitgespoel.

In ’n sterk bewoorde aanval het Matika onder meer gesê dat die voormalige Bokafrigter nie geskik is om met die keurproses te help nie en dat hy ’n rassis is.

“As ’n raadslid van die Kings dink ek nie ons het die hulp van die rassistiese Mallett nodig om die geskikte afrigter vir ons span te kry nie,” het hy op sy Facebookblad geskryf.

Nick Mallett. (Foto: Skermskoot/SuperSport)

“Mallett is nie bevoeg om ons te help met die kies van ’n nuwe afrigter wat homself tot ’n heeltemal getransformeerde Kings-span sal verbind nie.”

Die inskrywing is intussen van sy Facebookblad verwyder.

Hy het egter ook gesê dat Mallett nooit die Kings se transformasiebeleid sal ondersteun nie en daarom onbevoeg is om met die keuringsproses te help.

Netwerk24 berig dat Loyiso Dotwana, die voorsitter van die Kings-raad, in ’n verklaring gesê het Matika se Facebook-inskrywing is “totaal onaanvaarbaar”.

Dotwana het bygevoeg dat die inskrywing nie die mening van die uitvoerende raad óf dié van die Kings verteenwoordig nie. Daar gaan ook daadwerklike stappe gedoen word om die voorval intern te hanteer.

 

  • Mallett is een van die suksesvolste afrigters in Springbokgeskiedenis en het die span van 1997 tot 2000 gebrei. Tussen Augustus 1997 en Desember 1998 het sy span 17 agtereenvolgende toetse gewen.
  • Hy is deesdae een van die voorste rugbykenners op die betaalkanaal, SuperSport. Hy en sy medekenner, Naas Botha, is egter verlede jaar deur Ashwin Willemse van rassisme beskuldig.
  • Willemse het tydens ’n regstreekse uitsending van die ateljeestel gestap en gesê dat die twee oud-Bokke hom ondermyn. ’n Onafhanklike ondersoek het bevind daar was geen sprake van rassisme nie.
  • Van Matika se ander Facebook-inskrywings: “Ek gaan nie inmekaarsak en sterf weens rassisme in rugby nie. Die ergste is dat ek uitgeskop kan word. Hulle kan almal hel toe gaan. Solank as wat ek nog in is, is konfrontasie aan die orde van die dag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jakes ·

Wie wil in elke geval betrokke wees by so Unie? Hulle kon net drie wedstryde uit 42 wen en die groot rede is dat mense met politieke agendas die dinge daar beheer en nie mense met kennis van die sport nie. Mallett se rugby kennis is seker van die beste wat ons het in die land, maar agv politiek in die sport sal hy nie weer in die land afrig nie, wat ‘n groot jammerte is vir die sport en hul ondersteuners.

Carel ·

Voor opgestelde agenda en nie daar vir die spel nie maar vir homself . Raak ontslae van hom NOU!!!

Lizzie ·

Ten minste is Mallett regverdig en ken hy sy rugby. Hy wil net die beste hê vir SA Rugby in die geheel. Hou politiek uit sport en SA sal weer kan presteer, nou word spelers net gekies om die KWOTA vol te maak en dan kan hulle nie die druk verwerk wat daarmee saamgaan nie. Dit is baie onregverdig teenoor die speler sowel as die span vir wie hy/sy speel.
Ek sê maar net!!!!!

Gemaskerde Sopbeen ·

Wit en suksesvol maak maar altyd van jou ‘n teiken, doen dit nie?

jannie ·

Waarvan die hart van volis loop die mond van oor….Matika kyk in die spieel en raak wys.

Hennie ·

Ek sou baie graag mnr Matika se rekord van afrigting wou sien en hoe suksesvol hy was. My raaiskoot is dat hy nog nooit by afrigting betrokke was nie en dat hy tans ‘n raadslid is vir vele ander redes, waarvan rugby verseker nie een is nie.

humor ·

n Lee blik wat n geraas maak. Hy het die klok hoor lui maar weet nie waar die bel hang nie. Rassisme sit soos gemors aan n velkombers aan hom vas. Al is hy daarvan bewus dat Naas en Nic Mallett na deeglike ondersoek onskuldig bevind was, fluit hy doelbewus ten kwade dieselfde deuntjie oor en oor.

Bert ·

Matika…wat is op sy CV? Rugbyvelde se lyne gekalk?? Heerlike ou ANC-kader, dan waag hy om die woord “rassis” te gebruik!!

BENNIE ·

Matika moet ga leer by Mallett dan sal kings se rugby optel

Olifant ·

Kings hoort saam met klubspanne! Dit is n skande dat OP Rugby so agteruit gegaan het! Vorige Sport Pienaar Unies sou Kings geklop het!

Rooikop pop ·

Ek is nie n groot rugby fan nie maar van mnr matika, het ek nog nooit gehoor nie!
Nick Mallett is wel n naam wat ek al n paar keer teë gekom het. In so n mate dat ek presies weet hoe hy lyk én wat hy doen! Matika kan maar sy grond kommentaar vir hom self hou. Hierdie poppe wat hy so uit sy kot gooi, is pure rasisme.

Piet ·

Ek sien baie is negatief teenoor die kings.dinge is aan die verandering.met davids weg gaan dit net beter gaan.hou hulle dop hierdie seisoen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.