Kings se durf nie genoeg teen meer afgeronde Stormers

Eben Etzebeth (Foto sanzarrugby.com)

Eben Etzebeth (Foto sanzarrugby.com)

Vir ’n goeie halfuur Saterdag het die Kings, ’n span wat uit die trekvoëls en stiefkinders van Suid-Afrikaanse rugby bestaan, die hoogaangeskrewe Stormers behoorlik opdraande in die Nelson Mandelabaai-stadion gegee.

Maar toe die Stormers se enjin eers warm was, het hulle ses drieë ingeryg om die Kings met 41-10 te klop, met twee van die drieë wat in die laaste tien minute gedruk en verdoel is.

Nie dat die Baaiers in daardie eerste 30 minute gelyk het of hulle die wedstryd kan wen nie, maar hulle het met durf gespeel en verskeie kere besit by die losgemale omgekeer. Hier moet die naam van die Kings se flank Chris Cloete genoem word. In tipiese Heinrich Brüssow-styl het hy verskeie kere besit by die Kapenaars gesteel.

Daarby het die Kings se agsteman Ruaan Lerm met sy inklimspel beïndruk en ook in die lynstane meer as sy man gestaan.

Rynhardt Elstadt, flank van die Stormers, kan homself gelukkig ag dat hy nie van die veld gejaag is vir sy onderonsie met die einste Lerm halfpad deur die eerste helfte nie. Dat sy vuis met Lerm se kakebeen in kontak was, was duidelik te sien maar  die skeidsregter het besluit om hom slegs te waarsku.

Na daardie halfuur het die Kings se kortstondige sprokie tot ’n einde gekom toe eers Bjorn Basson en kort daarna Elstadt vir die Stormers gaan druk het. Dié twee drieë is beide na goeie samespel van die Kapenaars gedruk, iets wat in die eerste halfuur ontbreek het.

Die Stormers het die skrums oorheers en met Frans Malherbe en Oli Kebble wat die week die stutte in die beginspan was met JC Janse van Rensburg en Wilco Louw op die bank, het hulle ’n vroeë waarskuwing aan spanne gerig dat daar meer as genoeg stutte is om teenstanders se gal voorlangs te werk.

Die Stormers se agterste driehoek van SP Marais, Dillon Leyds en Basson het gewys dat hulle oor genoeg vaart beskik mits hulle in besit gestel word.

Die slotpaar van Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit het beklemtoon dat hulle nie hulle gelyke as kombinasie in Suid-Afrika het nie deurdat hulle, benewens hul gewone teenwoordigheid in die lynstane, ook soos losvoorspelers met die bal in die hand gehardloop het.

Is die Kings verneder? Nee. Met ’n bietjie geluk en afronding kon hulle nog minstens twee keer gaan druk het. Maar hulle lyk ook steeds nie tuis op Superrugby-vlak nie.

Puntemakers:

Kings (3) 10: Drie: Makazole Mapimpi. Doelskop: Lionel Cronje. Strafdoel: Cronje,
Stormers (17) 41:
Drieë: Dillon Leyds, Bjorn Basson, Rynhardt Elstadt, Robert du Preez, Justin Phillips, EW Viljoen. Doelskoppe: Robert du Preez 2, Kurt Coleman 2. Strafdoel: Du Preez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.