Kings smyt wedstryd weg, Cheetahs soek hul eerste sege

Kan die Cheetahs Saterdag uiteindelik as ʼn wenspan van die veld stap?

Hulle begin hulle balanseertoertjie om met twee spanne, hul franchise-groep en die Curriebeker-span, Saterdag in die Pro14 teen die Cardiff Blues te speel, wat Dinsdagaand gevolg word met die oorlewingstryd teen die SWD Arende om in die Curriebekerreeks te bly en dan nóg ʼn Pro14-wedstryd aanstaande Sondagdag teen Munster.

♦ Sal die Cheetahs beter as die Kings Vrydagaand vaar? Die Oos-Kaapse span was in die Baai in beheer van die wedstryd teen die Scarlets, net om dit kort voor en ná rustyd en toe finaal teen die einde te gaan wegsmyt.

Dít was, soos so dikwels die afgelope seisoen en ʼn half in die Pro14-reeks, weer die Kings se storie van ʼn neerlaag wat nie moes gewees het nie. Wéér was daar die herhaling van swak dissipline (12 strafskoppe teenoor die Walliesers se sewe is afgestaan) en oomblikke waar die konsentrasie afwesig was.

Die Kings het met rukke goeie en mooi rugby gespeel, soms ‒ en ook maar net soms ‒ die rolmaal van die besoekers effektief gekeer, en beter verdien as om met twee bonuspunte van die veld te stap.

Hulle was met 20-10 voor toe die Scarlets in die laaste oomblikke voor en toe twee minute ná rustyd gaan druk het om ʼn voorsprong van 22-20 te verkry.

Toe het die Kings die telling tot 34-22 na 55 minute gevoer, maar weer vergeet hulle moet deurdruk en drie Scarlets-drieë later ‒ twee daarvan in die laaste agt minute ‒ was die eindtelling slag op 41-34 gelewer.

Daar is egter ook die realiteit dat hierdie neerlaag en die swak konsentrasie gekom het teen ʼn span wat 20, ja ʼn volle 20, van sy spelers nie kon oorweeg nie. Twaalf van hulle is by Wallis se toetsgroep óf beseer óf sommer net laat rus, want onthou moet word dat die meeste van die oorsese Pro14-spanne ook in ondermeer die Europese beker- of Europese kampioenskap speel wanneer die Vrystaters loslootjies het.

Cheetahs teen Cardiff Blues

Wat die Cheetahs betref: hul wedstryd Saterdagaand is teen die Cardiff Blues, wat met ʼn oorwinning na tweede plek in afdeling A van die Pro14-reeks sal opskuif.

Die Cheetahs se afrigter Franco Smith het ses verandering aangebring, ʼn moontlike aanduiding dat ʼn paar van die franchise-Cheetahs Dinsdagaand vir die Vrystaat-Cheetahs teen die SWD in die promosie-relegasie-wedstryd sal speel.

Die Cheetahs het vroeër die seisoen in Cardiff naelskraap met 21-24 teen die Blues verloor en sal glo dat hulle dit tuis kan herhaal teen ʼn span wat ses van sy spelers aan Wallis afgestaan het en van hul ander tuisgelaat het om tussen hul vele kompetisies darem ʼn vry naweek te kry.

Daar is nege veranderinge aan die Blues se span.

Die Cheetahs het in die Pro14-reeks drie keer in Bloemfontein teen ʼn Walliese span gespeel en al drie keer gewen. Miskien tel die tuisveldvoordeel Saterdag ook.

Spanne ‒

Cheetahs
Malcolm Jaer, Rhyno Smith, Benhard Janse van Rensburg, William Small-Smith, Sibahle Maxwane, Tian Schoeman, Shaun Venter (kaptein), Ox Nché, Joseph Dweba, Johannes Coetzee, Walt Steenkamp, JP du Preez, Gerhard Olivier, Junior Pokomela, Neil Jordaan. Bank: Reinach Venter, Charles Marais, Erich de Jager, Sinthu Manjezi, Abongile Nonkontwana, Tian Meyer, Louis Fouche, Nico Lee.

Cardiff Blues
Matthew Morgan, Jason Harries, Garyn Smith, Rey Lee-Lo, Aled Summerhill, Steve Shingler, Lloyd Williams (kaptein), Brad Thyer, Ethan Lewis, Scott Andrews, George Earle, Rory Thornton, Josh Turnbull, Olly Robinson, Seb Davies. Bank: Liam Belcher, Rhys Gill, Keiron Assiratti, Samu Manoa, Nick Williams, Lewis Jones, Dan Fish, Willis Halaholo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie ·

Cheetahs soek hulle eerste sege?? Baie geluk Cheetahs dat julle uiteindelik wakker skrik om julle eerste sege te soek aan die einde van die seisoen. Dit bewys dat julle heeltyd geslaap het maar dat julle ten minste die doel ken van rugby kompetisie: om te wen! As julle aan daardie gedagte vashou kan julle dit dalk so oordra na volgende seisoen, sommer reg van die begin af. Intussen, geluk aan die Sharks wat weet ‘n span speel om te wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.