Kings swaai eindelik septer; Cheetahs sien weer rooi

Die Southern Kings het hul eerste Pro14-wedstryd weg van die huis gewen toe hulle vir die Ospreys met 16-14 in Swansea getroef het. (Foto: Twitter)

Dit het hulle ’n hele rukkie geneem, maar die Southern Kings het nie net hul eerste wedstryd van die seisoen gewen nie, hulle het sommer ook hul eerste kragmeting ooit weg van die huis in hul Guinness Pro14-geskiedenis gewen.

Die Oos-Kapenaars het die Ospreys in Swansea met 16 – 14 geklop en die vreugdevure brand waarskynlik steeds hoog in die Robbi Kempson-kamp.

Die Kings het vir eens die septer geswaai en ’n gemaklike voorsprong van 16 – 0 opgebou te danke aan Erich Cronje se drie en Scott van Breda se skopvoet.

Maar die tuisspan het terugbaklei en die Kings is veral in die skrumsituasie opgedons. Hulle het strafskop ná strafskop afgestaan.

Met agt minute se speeltyd op die horlosie oor, was die Ospreys met net twee punte agter. Tog het die Kings aan hul voorsprong vasgeklou vir ’n geskiedkundige oorwinning.

“Dit was net ’n ongelooflike poging van die ouens gewees. Hoewel ons hier en daar baie gelukkig was, was ons verdediging en die manier waarop ons wal gegooi het iets om op trots te wees. Ek kan nie fout met ’n enkele speler vind nie,” het ’n verheugde Kempson, Kings se direkteur van rugby, gesê.

Puntemakers:

Southern Kings: Drie: Erich Cronje. Doelskop: Scott van Breda. Strafskoppe: Van Breda (3).

Ospreys: Drieë: Morgan Morris en Hanno Dirksen. Doelskoppe: James Hook en Luke Pierce.

  • Maar waar die vreugdevure vir die Kings hoog in Swansea gebrand het, was dit ’n ander storie vir die Cheetahs in Cardiff.

Ruan Pienaar se Vrystaatspan – wat so te sê onstuitbaar in Suid-Afrika was – het hul derde agtereenvolgende nederlaag weg van die huis gely, toe die Cardiff Blues hulle met 30 – 17 geklop het.

Boonop het nóg ’n rooikaart die besoekers sommer vroeg in die wedstryd gekniehalter. Die keer is die agtsteman Jasper Wiese van die veld gejaag nadat hy taamlik hardhandig by ’n losgemaal ingevlieg het.

Vroeër op toer het Dries Swanepoel ook rooi teen Connacht gesien. Die agterspeler is vir drie weke geskors.

Puntemakers:

Cardiff Blues: Drieë: Aled Summerville en Josh Turnbull. Doelskop: Jarrod Evans. Strafskoppe: Evans (4) en Jason Tovey (2).

Cheetahs: Drieë: Ryno Smith en Clayton Blommetjies. Doelskoppe: Ruan Pienaar (2). Strafskop: Pienaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet ·

Kings wedstryd. – daai Italianer was in ‘n klas van sy eie. Nog nooit gesien hoe die ref die aksie probeer bestuur het. Kan maklik ‘n palementariër by ons word. Mooi so Kings.

Isak ·

Trots op die kings. Bly hulle is op die wen pad. Dissepliene kos die Cheethas op die staduim. Hulle sal daarna moet kyk. N span kan nie met 14 man in die kompetsie speel nie. Ek.dink ook die pro 14 referee vereeniging sal na die kwaliteit van hulle refs moet kan. Want in 2 van die 3 wedstyde was die cheethas sleg bevark

SjN ·

En toe kos die rooikaart die cheethas die game, ek is n voorstander dat die speler vervang moet word en strafpunte aan die ander span gegee word, soek man teen man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.