Kings takel verlede seisoen se Pro12-kampioen sonder losmaker

Dit is ver van ideaal af, maar onvermydelik: die Southern Kings vertrek Woensdag na Wallis vir die eerste van hulle twee Pro14-wedstryde sonder dat hulle in  ʼn opwarmwedstryd gespeel het.

Die span speel Saterdag in Llanelli teen verlede jaar se Pro12-kampioenspan, die Scarlets. Volgende naweek speel die Kings teen Connacht van Ierland.

Die reeks is vir die komende seisoen met die toevoeging van die Kings en die Cheetahs na die Pro14 herdoop.

Die Kings se afrigter, Deon Davids, het Maandag die toergroep van 27 spelers bekend gemaak. Die haker Michael Willemse, wat die afgelope naweek nog Curriebekerrugby vir die Goue Leeus teen die Vrystaat Cheetahs gespeel het, is die Kings se kaptein.

Hy het na afloop van die Superreeks na die Leeus verhuis, maar is nou terug in Port Elizabeth. Lionel Cronjé, wat die span ná Schalk Ferreira se vroeë besering in  die Superreeks aangevoer het, is nie beskikbaar nie. Hy speel tans in Japan.

Met heelwat van die span wat leenspelers van ander unies is, het Davids die afgelope week of twee op strukture gekonsentreer. Tyd vir opwarmwedstryde was daar nie.

Daar is darem tien spelers wat in die Superreeks vir die Kings gespeel het, en ook twee manne wat ervaring het van die ou Pro12-reeks.

Hulle is Dries van Schalkwyk, flank wat vir Zebre gespeel het en vir nie minder nie as sewe provinsies of franchises in Suid-Afrika uitgedraf het, en Rossouw de Klerk.

Dié stut het Superrugby vir die Bulls en die Cheetahs gespeel en ook vir die Glasgow Warriors in die Pro12 en Grenoble en Colomiers in Frankryk uitgedraf.

Kings-toergroep –

Voorspelers
Tango Balekile, Stephan Coetzee, Rossouw de Klerk, Bobby de Wee, Martin Dreyer, Schalk Ferreira, Khaya Majola, Siya Mdaka, Andisa Ntsila, Luvuyo Pupuma, Victor Sekekete, Etienne Swanepoel, Dries van Schalkwyk, Jurie van Vuuren, Michael Willemse (kaptein).
Agterspelers
Masixole Banda, Kurt Coleman, Ntabeni Dukisa, Rowan Gouws, Berton Klaasen, Godlen Masimla, Jacques Nel, Yaw Penxe, Sibusiso Sithole, Poerie van Rooyen, Luzuko Vulindlu, Oliver Zono.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.