Kings trap klei op nat veld in reënwedstryd

Die Southern Kings het hulle vyfde opeenvolgende wedstryd verloor, maar dié keer was daar tog wel effense verskoning vir die neerlaag.

Die Gwent Dragons het hulle Saterdagaand in Newport met 29-13 geklop en was verreweg die beste span.

Die Kings het egter nie veel kans gehad om rugby te speel en te wys of hulle aanvallende spel verbeter het nie. Dit het letterlik dwarsdeur die wedstryd hard gereën. Die Dragons was werklik tuis in hierdie omstandighede waaraan hulle gewoond is.

Hulle het hul wedstrydplan goed uitgevoer. Die Kings het min besit (sowat 37%) gehad – te min om in die vreemde omstandighede gebiedsvoordeel af te dwing.

Die Kings het seker ook geleer dat wyd speel nie die antwoord is nie, en reguit hardloop en aanvallende losskrums afdwing vrugte afwerp. Vorentoe in sulke weer sal dit beter gaan.

Die Dragons het hoofsaaklik met hul voorspelers gespeel. Die Kings se grootste probleem was egter die Suid-Afrikaanse skrumskakel Sarel Pretorius wat gebreek en binnetoe gevoer het; sy losskakel en binnesenter van besit voorsien het; en sy pak voorspelers die hele tyd laat vorentoe speel het.

Die gevolg van sy afwisseling en neiging om kort om die afbreekpunte te speel, het die Kings hoe later hoe kwater laat bondel om dáár te help keer – en dit is hoe Super Sarel hulle gevang het met wyd speel na waar die verdediging nie so gekonsentreer was nie. Die vleuel Hallam Amos het een van sy twee drieë so gaan druk.

Of die Kings op die aanval en die verdediging gevorder het, sal ʼn mens op die sopnat en gladde veld nie weet nie. Daar is gegly en aangeslaan, en wyd speel was net eenvoudig nie die antwoord nie.

Voortgesette probleme? Daar is te veel, 13, strafskoppe afgestaan; 17 duikslae is gemis; en besit is 12 keer omgekeer.

Wat wel waar is, is dat die Oos-Kapenaars hulle alles gegee het. Hulle het, toe hulle reeds 22-6 agter was, ʼn goeie drie rolmaal-drie gaan druk en nog ʼn keer of wat naby die doellyn omgedraai.

Puntemakers –

Dragons (22) 29: Drieë: Hallam Amos 2, Elliot Dee 2. Doelskoppe: Gavin Henson 3. Strafdoel: Henson.
Kings (6) 13: Drie: Anidisa Ntsila. Doelskop: Pieter-Steyn de Wet. Strafdoele: De Wet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.