Kings uit hul diepte in die Pro14-reeks

Nee wat, die huidige Kingsspan hoort eenvoudig nie in die Pro14-reeks nie.

Met al die simpatie wat ʼn mens het vir die afrigter Deon Davids en die manne wat op kort kennisgewing saamgegooi/geflans is, vertel die pak slae teen Benetton Saterdagaand in Treviso van die onvermoë om op dié vlak mee te ding.

Benetton, volgens die puntelys voor die wedstryd die tweede swakste van die 14 spanne, het ʼn maklike oorwinning van 31-3 behaal en vier drieë gedruk wat aan hulle ʼn bonuspunt besorg het.

Dit was die ou-ou storie van omkeerbesit, met Benetton wat 13 keer daaruit kon voordeel trek; van 13 verbroude duikslae; en tien strafskoppe waaruit die tuisspan behoorlik munt geslaan het met ondermeer drie strafdoele en ʼn rolmaaldrie.

Benetton het sowat 60% van die besit gehad en het op die regte plekke op die veld gespeel, meer as die Kings gehardloop en meer kere die bal gedra.

In die redelik gespanne eerste helfte tussen die spelers, het Benetton die enigste drie na 31 minute gedruk nadat Marty Banks binne die eerste 24 minute drie strafdoele deurgejaag het.

Pieter-Steyn de Wet se strafdoel kort voor rustyd was uiteindelik die Kings se enigste punte.

Benetton het na rustyd met ʼn voorsprong van 14-3 terug op die veld gekom.

Die Kings het na die omdraaislag nooit werklik gelyk of hulle ʼn duik in die tuisspan se voorsprong sou maak nie en nog drie drieë vir Benetton, kort na rustyd en twee in die laaste ses minute, het gevolg.

Die laaste hiervan is in die 80ste minuut deur Cherif Traore gedruk, wat aan die tuisspan ʼn bonuspunt besorg het.

Puntemakers –

Benetton (14) 31: Drieë: Angelo Esposito 2, Marco Barbini, Cherif Traore . Doelskop: Ian McKinley. Strafdoele. Mary Banks 3.
Kings (3) 3: Strafdoel: Pieter-Steyn de Wet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.