Kings verspeel wenkans teen verswakte Scarlets

Die Southern Kings het Sondag ʼn gulde geleentheid verspeel om sy eerste Pro14-oorwinning te behaal toe die erg verswakte Scarlets tien minute voor die einde van die wedstryd in die Nelson Mandelabaai-stadion die wenpunte aangeteken het.

Die Scarlets het met 34-30 gewen sonder 15 van hulle spelers wat die naweek by Wallis en Skotland se toetsspanne betrokke was.

Die Kings het, soos in hulle laaste wedstryd vier weke gelede teen Ulster, wéér twee bonuspunte gekry, wéér teen die einde verloor en is steeds laaste van die 14 spanne in die Pro14-reeks.

Die Walliesers, wat met rustyd met 10-16 agter was en twee minute ná die hervatting 13 punte moes inhaal toe die Kings die telling 23-10 gemaak het, het egter die agterstand met twee drieë kort ná mekaar uitgewis en na 62 minute ná ʼn strafdoel 27-23 voorgeloop.

Toe het Harlon Klaassen ʼn opportunistiese verdoelde drie vir die Kings gaan druk voordat Jones  die wenpunte tien minute voor die eindfluitjie aangeteken het.

♦  Op die ou end was dit vier uit vier doelskoppe van die besoekers se losskakel Jones teenoor die twee uit vier van die Kings wat sy span vyf ligapunte laat verdien het. Jones het ook twee strafdoele oorgeskop en 19 punte aangeteken.

♦  Die Kings speel Saterdag, weer in die Baai, teen Edinburgh, wat Vrydagaand teen die Cheetahs in Bloemfontein verloor het – ook met sewe spelers wat nie vir hulle beskikbaar was nie en Skotland gehelp het om die Wallabies met 53-24 te vermorsel.

Puntemakers –

Kings (16) 30: Drieë: Michael Makase, Yaw Penxe, Martin du Toit, Harlon Klassens. Doelskoppe:  Oliver Zono, Kurt Coleman. Strafdoele: Zono 2.
Scarlets (10) 34:  Drieë: Tadhg Beirne, Ioan Nicholas, Werner Kruger, Dan Jones. Doelskoppe: Jones 4. Strrafdoele: Jones 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.