Kitshoff groet Stormers met spesiale boodskap

Steven Kitshoff en kie op die aanval. (Foto: Hansie Linde)

Meer as 50 000 toeskouers het hom die afgelope naweek staande toegejuig toe hy die veld in die 71ste minuut van die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd teen Munster verlaat het.

Die Kapenaars se nederlaag teen die Ierse besoekers het toe nie sy Stormers-loopbaan met ʼn sprokiesverhaaleinde afgesluit nie, maar ʼn mens sal begrip daarvoor hê as Steven Kitshoff nog ʼn paar keer in die toekoms ʼn gratis Tafelberg-kabelkarretjierit mag geniet.

Hy is immers Stormer-bloubloed.

Kitshoff en Ruhan Nel. (Foto: Hansie Linde.)

Die 31-jarige stut sal ná die Wêreldbeker-toernooi sy eersterangse rugby vir Ulster speel. Hy het ʼn kontrak van drie jaar met die Ierse klub onderteken en hy sal minstens tot 2026 in Belfast bly.

Steven Kitshoff sal ná volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi sy eersterangse rugby vir Ulster speel. Die Springbok-stut het ʼn kontrak van drie jaar met die Ierse klub onderteken en hy sal tot minstens 2026 in Belfast bly.

Maar ná 130 Superrugby- en VRK-wedstryde vir die Kapenaars moet die Stormer-bloed sterk deur sy are bruis.

“Dit was ʼn ongelooflike eer en die unie was baie goed vir my; deur goeie en slegte tye. Dit was ʼn groot eer om voor 56 000 toeskouers te speel en ek was in trane toe ek sien hoe almal opstaan en my erkenning gee,” het Kitshoff ná die Munster-kragmeting gesê.

Hy het ook op sosiale media hulde aan die span ná 12 seisoene gebring, terwyl hy die ondersteuners vir hul bydrae tot sy Stormer-hoofstuk bedank het.

“Alhoewel dit nie die uitslag was waarvoor ons gehoop het nie, kan ons veggees en vasberadenheid nie oorskadu word nie. Dankie vir ʼn ongelooflike seisoen propvol herinneringe wat my vir altyd sal laat glimlag. Dit was ʼn voorreg om hierdie merkwaardige span op die veld te lei,” het hy sy Instagram-boodskap afgesluit.

Ulster is opgewonde oor Kitshoff se loopbaanskuif

“Ons is in ons noppies dat ʼn speler van Steven se kaliber besluit het om deel van ons klub se planne te word. Hy is ongetwyfeld een van die beste spelers in sy posisie en hy sal nie net vir ons voorry meer spierkrag gee nie, maar ook met die ontwikkeling van jonger spelers help,” het Dan McFarland, Ulster-hoofafrigter, gesê.

“Sy puik werk in die vaste fasette, fisieke teenwoordigheid en positiewe ingesteldheid sal van groot waarde wees wanneer hy by ons aansluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.