Kitshoff slaggereed vir Kolisi-stryd

Siya Kolisi en Steven Kitshoff is vanaand teenstanders in Belfast. (Foto: Simon King/DPPI via AFP)

Steven Kitshoff is slaggereed om ʼn goeie vertoning teen Springbok-spanmaats Siya Kolisi en Trevor Nyakane op die Kingspan-stadion te lewer.

Kitshoff speel deesdae sy eersterangse rugby vir Ulster, terwyl Kolisi en Nyakane in die kleure van Racing 92 is.

“Ek is opgewonde om vir Siya te sien – dit lyk of hy sy voete in Parys gevind het en ek is bly vir sy onthalwe. Hy is ʼn ongelooflike leier vir die Springbokke,” het Kitshoff gesê.

Op sy beurt het dinge nog nie heeltemal volgens plan vir die Bok-stut in Belfast verloop nie. Ulster het drie wedstryde op ʼn streep verloor, terwyl hul skrums ook met tye in trurat was.

Volgens die voormalige Stormers-kaptein is hy oorgehaal om weer op sy beste teen Racing te wees; veral wanneer hy sy stempel teen sy Springbok-spanmaats kan afdruk.

“Ek het nog nie gespeel soos wat ek weet ek kan nie. Tog het ek dit al vantevore gesê: Rugby is ʼn vreemde spel – ná sewe dae kry jy weer ʼn geleentheid om te speel en hopelik vuur ek dan op alle suiers. Ek wil graag ʼn stewige vertoning teen Racing lewer.”

“Ja, ek is baie trots op Siya en die mens wat hy geword het, maar ek sien steeds daarna uit om hom ʼn ding of twee op die speelveld te wys!”

Die wedstryd begin vanaand om 22:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Ulster: Mike Lowry (heelagter), Rob Baloucoune (regtervleuel), James Hume (buitesenter), Stuart McCloskey (binnesenter), Jacob Stockdale (linkervleuel), Billy Burns (losskakel), John Cooney (skrumskakel), Matty Rea (agtsteman), Nick Timoney (flank), Dave Ewers (flank), Iain Henderson (kaptein en slot), Alan O’Connor (slot), Tom O’Toole (stut), Rob Herring (haker) en Steven Kitshoff (stut).

Racing 92: Max Spring (heelagter), Henry Arundell (regtervleuel), Gael Fickou (buitesenter), Henry Chavancy (binnesenter), Juan Imhoff (linkervleuel), Antoine Gibert (losskakel), Nolann le Garrec (skrumskakel), Wenceslas Lauret (agtsteman), Siya Kolisi (flank), Cameron Woki (flank), Will Rowlands (slot), Baptiste Chouzenoux (slot), Trevor Nyakane (stut), Janick Tarrit (haker) en Hassane Kolingar (stut).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.