Kitsie kom weer Kaapstad toe

Steven Kitshoff en kie op die aanval vir die Stormers. (Foto: Hansie Linde)

Toe Steven Kitshoff ná die Wêreldbeker-toernooi sy tasse vir Ulster gepak het, het hy die deur op ʼn skrefie oopgelaat vir ʼn moontlike Stormers-terugkeer. Min wetend dat dié deur skaars ʼn paar maande later weer wawyd oop sal staan.

Die Springbok-stut wat die Stormers ʼn seisoen of twee gelede na Verenigde Rugbykampioenskap-glorie gelei het, gaan volgende seisoen weer in die Kaap te siene wees.

Hy sal egter vir eers nog sy beste vir Ulster gee, ʼn klub wat met finansiële probleme sukkel en in 2023 ʼn verlies van £900 000 gely het.

Die jongste Kitshoff-verwikkeling laat John Dobson groot glimlag.

“Steven is een van die Stormers se grootste spelers nóg en hy dra baie tot die span se sukses by – óp en lángs die veld. Ons wou hom nog altyd terug in Kaapstad gehad het en ek is baie dankbaar dat dit so gou ʼn werklikheid geword het,” het die Stormers-afrigter gesê.

Op sy beurt is Kitshoff ook opgewonde oor sy komende terugkeer.

“Dis geen geheim wat Kaapstad en die Stormers vir my beteken nie. Van volgende seisoen sal ek alles in my vermoë doen om ’n verskil te maak en hopelik kan ek weer deel van iets spesiaals wees met my vriende en familie aan my sy,” het die 32-jarige voorryman gesê.

“Ek wil ook vir Ulster bedank; nie net vir die ongelooflike ervaring in Belfast nie, maar ook vir hul hulp en begrip deur die hele proses. Daar is nog baie dinge wat ons hierdie seisoen saam kan bereik.”

Die Stormers speel vanmiddag om 16:00 teen La Rochelle in ʼn Kampioenebeker-kragmeting en die wedstryd word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Stormers teen La Rochelle: Warrick Gelant (heelagter), Suleiman Hartzenberg (regtervleuel), Dan du Plessis (buitesenter), Damian Willemse (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Ben-Jason Dixon (flank), Deon Fourie (flank), Ruben van Heerden (slot), Salmaan Moerat (slot), Neethling Fouché (stut), Joseph Dweba (haker) en Brok Harris (stut). Plaasvervangers: André-Hugo Venter, Leon Lyons, Frans Malherbe, Adré Smith, Hacjivah Dayimani, Marcel Theunissen, Paul de Wet en Ben Loader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.