Kitsliga besleg bevordering by Luiperds

luiperdsVier Luiperdsklubs sal aan `n kitsliga deelneem om die besluit om bevordering van een van hulle tot die Luiperds-Griffons-oorgrensliga te vergemaklik.

Eugene Fourie, die Luiperds se bestuurder van amateurrugby, laat weet Lichtenburg, Potchefstroom-Dorp, Klerksdorp en Vaal Reefs sal in `n Presidentsliga meeding sodat eersgenoemde twee hul krag kan bepaal voordat een van die twee `n keuse kry om aan die oorgrensliga deel te neem.

Klerksdorp en Vaal Reefs speel sedert verlede jaar in die reeks.

Fourie sê die Neser-A-liga se 2017-wenner sal die kans kry om `n liga op te skuif en die keuse hê om uit te speel teen die Luiperdsklub wat tweede in die oorgrensliga eindig, ten einde `n plek in die uitspeelronde van die Goue Bekerreeks te verdien.

“Aangesien Rustenburg Impala, as kampioen, se deelname aan die nasionale reeks verskans is, sal die Luiperdsklub wat die beste in die oorgrensliga vaar die bond in die landwye reeks verteenwoordig. Die span wat tweede is, moet dan uitspeel teen die Neserligawenner.”

Fourie sê klubrugby in Noordwes is baie gesond al sukkel die klubs geldelik.

“Die klubs kom al hul bepalings na en dit wys hoe ernstig die Noordwesters nog hul klubrugby opneem.

“Die verskillende ligas plaas mededinging op `n krag-teen-kraggrondslag, en die gevolg is dat daar nooit vooraf `n gunsteling bepaal kan word nie.

“Die nuweling in die senior liga, Fochville, het reeds verlede jaar gewys dat hy nie `n tree terug staan vir die ander klubs nie, en daar sal gewis vanjaar `n baie gelykop Neser-A-liga wees,” het Fourie aan Pale Toe! gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.