Die klipharde Nieu-Seelandse agtsteman, Nick Williams, het pas sy rugbytokse ná 16 jaar weggebêre. Hy het onder meer vir die junior All Blacks, die Blues, Ulster en Munster gespeel voordat hy sy loopbaan by die Cardiff Blues in Wallis afgesluit het.
Volgens die 36-jarige was Kevin Mealamu en Rory Best die beste spelers saam met wie hy gespeel het, maar hy het ’n Suid-Afrikaanse speler as sy taaiste teenstander uitgesonder.
Die reus van 130 kg en 1,91 m was ’n wegholtrein op die veld, maar hy vertel dat Suid-Afrikaners hom gereeld ontspoor het.
“Ek was nog altyd trots op die feit dat rugby ’n klipharde spel is en om teen die groot Suid-Afrikaanse manne te speel was altyd ’n lekker uitdaging.”
Maar daar is egter net een Duane Vermeulen.
“Hy is ongetwyfeld een van die sterkste manne teen wie ek gespeel het,” het Williams aan Wales Online gesê.
Vermeulen is een van die beste agtstemanne in wêreldrugby en het nie verniet die bynaam Thor gekry nie. Hy het die Engelse voorspelers goed in verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd opgedons en is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.
Wanneer daar oor ’n Nieu-Seelandse speler gepraat word, verdien die voormalige All Blacks-kaptein Richie McCaw eervolle vermelding.
“Hy was enig in sy soort.”
Volgens Williams sal hy en sy gesin voortaan in Wallis bly, terwyl hy dit oorweeg om ’n lyfwag te word.
Stem saam, nie net is Duane die beste agsteman ter wereld nie, maar ook ‘n fantastiese leier. Hy lei van voor af en was maar die eintlike leier, saam met Pollard, in die wereldbeker toernooi. Soos Boy Louw in die ’30’s vir ‘n springbok kaptein gese het : ” Maak jy die speeches ek lei die manne op die veld”. Selfde met Duane en huidige springbok kaptein.