Kiwi’s en Iere wag op Blitse in Vancouver

Impi Visser in aksie op die sewesrugbyveld. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Ná ʼn teleurstellende vyfde plek en ʼn paar beserings in Perth hoop Sandile Ngcobo dat vars bene vir ʼn stewiger vertoning in Noord-Amerika sal sorg.

Die Blitsbokke speel van 23 tot 25 Februarie in Vancouver, waarna die sewesaksie na Los Angeles sal skuif.

“Ons het ʼn vars groep spelers vir hierdie sessie nodig omdat ons twee toernooie op ʼn streep speel,” het die nasionale sewesafrigter gesê.

“Ongelukkig het ʼn paar van die ouens beserings in Perth opgedoen, maar dit gee terselfdertyd ook vir ons ʼn geleentheid om ʼn fiks en sterk groep vir die komende toernooie te kies.”

Impi Visser, Shaun Williams, Rosko Specman, Justin Geduld en Darren Adonis sal saam met die span na Noord-Amerika reis.

Suid-Afrika speel sy eerste Vancouver-wedstryd teen Nieu-Seeland, waarna kragmetings teen Groot-Brittanje en Ierland volg.

“Rosko en Justin sorg vir hope ervaring en sewesvernuf, terwyl Impi ook ’n welkome terugkeer maak nadat hy met ’n seer nek gesukkel het. Ons is by ’n baie fisieke groep ingedeel en dit is baie goed om ’n speler van sy gehalte terug te hê; ons sal beslis vuur met vuur moet beveg.”

Die Blitsbokke is tans vierde op die HSBC-punteleer nadat hulle die eerste toernooi in Dubai gewen het.

ʼn Paar sukkelvertonings in Kaapstad en Perth beteken dat hulle beslis ʼn hoër rat in Vancouver moet vind.

Die Blitsbokke sal hul seisoen weer op koers in Vancouver wil kry. (Foto: X/Blitsbokke)

Volgens Ngcobo is die kompetisie sterk en sy span kan nie bekostig om vir een sekonde konsentrasie te verloor nie.

“In Vancouver speel ons teen fisieke teenstanders en ons moenie vir hulle terugstaan nie. Daar gaan beslis nie iets soos ʼn maklike wedstryd wees nie. Die spelersgroep wat ons gekies het, weet egter wat dit verg om in taai wedstryde die knoop deur te hak en ek verwag dat ons mededingende spel sal opdis.”

  • Blitsbok-groep: Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Selvyn Davids (kaptein), Shaun Williams, Shilton van Wyk, Rosko Specman, David Brits, Darren Adonis, Justin Geduld, Tristan Leyds, Ricardo Duarttee en Katlego Letebele.
  • Vancouver-bepalings:

Vrydag:

23:52: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland

Saterdag:

04:56: Suid-Afrika teen Groot-Brittanje

23:05: Suid-Afrika teen Ierland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.