Kiwi’s, Fidji terug, maar Blitsbokke wil aanhou wen

JC Pretorius lewer deesdae die een skittervertoning na die ander. (Foto: Springbok Sevens/Twitter)

Ses agtereenvolgende toernooi-seges op die internasionale sewesverhoog spreek boekdele van die Blitsbokke se onlangse oorheersing.

Neil Powell se span het hul laaste wedstryd – die bekereindstryd van die Sevilla-toernooi – met 33 – 7 teen Australië gewen.

Tog het elke ongelowige Thomas gemor dat die Suid-Afrikaners nie behoorlik in dié toernooie getoets was nie; Covid-19-regulasies het immers ’n stokkie voor Nieu-Seeland en Fidji se deelname gesteek.

Maar dié twee spanne is hierdie naweek terug vir die volgende HSBC-sewestoernooi in Singapoer. En die Blitsbokke is opgewonde oor hierdie uitdaging.

“Ons is eintlik baie bly dat hulle weer terug is; die reeks het hulle beslis nodig,” het JC Pretorius gesê.

Die blondekop oudleerling van HTS Middelburg het sy Blitsbok-buiging in 2019 in Australië gemaak, en selfs al het die wêreldwye Covid-19-pandemie die 2020-sportkalender in die wiele gery, is hy deesdae ongetwyfeld een van die staatmakers in die groep wat in die een droomspan na die ander opgeneem word.

“Mense het gesê dat ons onlangse sukses in hul afwesigheid was. Ons kon egter niks daaromtrent doen nie, behalwe om na die beste van ons vermoë te speel. Daar gaan nie veel dinge verander noudat hulle terug is nie; ons gaan nie baie aan ons wedstrydplan karring nie en gaan soos altyd speel.”

Goeie nuus is dat Shakes Soyizwapi en Ronald Brown weer vir aksie gereed is, terwyl die 24-jarige Lubabalo Dubela sy internasionale sewesbuiging sal maak.

Boonop is die Blitsbokke die verdedigende kampioenspan toe hulle in 2019 vir die einste Fidji met 20 – 19 geklop het.

  • Blitsbok-span: Sakoyisa Makata, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Christie Grobbelaar, JC Pretorius, Ronald Brown, Selvyn Davids, Lubabalo Dubela, Dewald Human, Shakes Soyizwapi, Mfundo Ndhlovu en Darren Adonis.
  • Bepalings:

Saterdag:

06:34 teen Kanada

09:40 teen Kenia

13:33 teen die VSA.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Geen span kan sê hy is die beste terwyl Fidji en die Kiwi’s nie deelneem nie.Ons het goed gevaar maar kom ons vergeet nie die verbetering van ander spanne soos Argentinië nie.Dit gaan vir ons ‘n groot toets wees.Neil Powell gaan Sharks toe,wie gaan by hom oorneem.As dit ‘n regstellende aksie aanstelling wees gaan ons,ons g.tte sien,kyk maar wat gebeur by die leeus met Nkosi daar.Hy het geen wenkultuur nie solank sy beurse net dik bly

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.