Kiwi’s, Japan, Sydney kan Force-reeks uitbrei

Andrew Forrest – WSR kry gestalte. (Foto: Facebook)

Spanne uit Nieu-Seeland, Japan en selfs een uit Sydney kan aanstaande jaar Andrew Forrest se Wêreldrugby-reeks (WSR) opkikker.

Dié reeks is deur Forrest geskep om ʼn heenkome vir Perth se Western Force te skep, nadat hy uit Superrugby gegooi is.

ʼn Proeflopie vanjaar het wedstryde teen vyftientalle van twee Superrugby-franchise’e, die Crusaders en die Rebels, asook teen spanne uit die Suidsee-eilande, Japan en Hongkong ingesluit.

Luidens berigte uit Australië lyk dit of twee Japanse en ʼn Nieu-Seelandse span deel van aanstaande jaar se volwaardige WSR sal vorm.

Daar is ook aanduidings dat Forrest en die Australiese Rugbyunie vrede gemaak het, en ʼn span wat in Wes-Sydney gehuisves word, ook aan die reeks kan deelneem.

Dié geweste se Penrith Emus het vroeër vanjaar sy plek in die Nieu-Suid-Walliese reeks om die Shute-skild verloor, en daar is nou geen senior span oor nie.

Bespiegelings wil dit hê dat, hoewel die beoogde WSR-span plaaslik aangevul sal word, die kern uit die Suidsee-eilande kan kom.

♦ Die Force neem tans aan die Australiese Nasionale Rugbykampioenskap deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.