Kiwi’s nie verbaas oor Saru se besluit

AP Photo/Aaron Favila.

Vir Mark Robinson, die uitvoerende hoof van New Zealand Rugby (NZR), was SA Rugby se besluit om deel van ’n vergrote Pro16-toernooi te word, nou nie eintlik die grootste verrassing in die wêreld nie.

Dit volg nadat Suid-Afrika se rugbybase gister tydens ’n vergadering beslis het dat die Stormers, Sharks, Bulls en Lions ’n moontlike trek noordwaarts na ’n vergrote Pro16-kompetisie in Europa kan maak.

Volgens Jurie Roux, SA Rugby se uitvoerende hoof, is die besluit in reaksie op die wêreldwye Covid-19-pandemie asook Nieu-Seeland se droom om met ’n trans-Tasmaniese kompetisie voort te gaan. Die Kiwi’s se “eensydige besluit” sal dan die aanbieding van ’n Superrugby-toernooi in sy huidige formaat aansienlik bemoeilik.

“Saru kyk al vir ’n geruime tyd na moontlikhede om by die seisoen van die Noordelike Halfrond aan te sluit. Al die Sanzaar-vennote het ooreengekom om na meer plaaslike kompetisies vir 2020 en 2021 te kyk. Verandering is onvermydelik in hierdie tye en ons moet bereid wees om vinnig aan te pas,” het Robinson gesê.

Die Nieu-Seelandse rugbybaas het ook Saru se besluit verwelkom dat Suid-Afrika steeds tot die Sanzaar-vennootskap verbind is, terwyl die Springbokke deel van die Rugbykampioenskap kan bly.

Sam Cane. Foto: Twitter.

Die All Blacks se kaptein, Sam Cane, is egter hartseer dat plaaslike Nieu-Seelandse spelers nie meer kragte teen Suid-Afrikaanse eweknieë sal meet nie.

“Wanneer ’n mens gelukkig genoeg is om internasionale rugby te speel, sal jy steeds die ongelooflike geleentheid hê om na Suid-Afrika te toer. Persoonlik dink ek daar is geen groter uitdaging as om teen ’n Suid-Afrikaanse span voor sy passievolle ondersteuners te speel nie,” het Cane gesê.

“Vanuit ’n ontwikkelingsoogpunt is dit hartseer dat die jong spelers voortaan nie meer soortgelyke ervarings sal hê nie. Ek onthou hoe opgewonde ek was toe ek vir die eerste keer in Suid-Afrika gespeel het, om vir die eerste keer besigheidsklas te vlieg en al die lekker dinge van ’n toer te ervaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Binnekort gaan niemand meer iets met SA sport wil te doen hê nie.Ek blameer hulle ook nie.Ons stel nie meer belanag in enige sport in SA nie.Niks ZERO Nul.Neek maar voort soos julle wil.

Androclus

All blacks ons soek nie vir julle nie,julle kan skaars die Rose wen,ons sal julle mors.

Adam Adriaan

Sal in die toekom net in die geskiedenis boeke lees van die oudae toe daar nog krieket/rugby in SA gespeel was. Tyd het aangebreek dat internasionale spanne nie meer met SA sal wil meeding nie, want hulle sal nie meer wil kompeteer met derde/vierde rangse spanne nie Die bestuur en die beheer oor die SA sport spanne is ‘n klug.

Manie

Die eerste paragraaf maak nie sin nie. Robinson is seker nie verbaas dat SA Rugby wel deel van die vergrote Pro16 toernooi wil word nie?

Frans

Die besluit om spanne in ‘n Noordelike halfrond kompetisie te laat speel kan die ondergang van Suid Afrikaanse verhaas.Ons sukkel reeds om spelers te behou weens die swak Rand en sterk Pond en Euro. Wanneer spanne daar speel kan ‘n mens maar seker wees dat uitblinkers spoedig met aanbiedings oorval gaan word. Die oplossing is ‘n sterk plaaslike kompetisie met minder spanne en ‘n eweredige verdeling van spelers. Persoonlik dink ek dit is belaglik dat die Bulle bv spelers wat Suid Afrika verlaat het nou terugkoop ten koste van plaaslike talent omdat hul kwansuis nou soveel ondervinding het. Suid Afrika… Lees meer »